Esegiël 36: 26-27
Ons het tans ’n klein seuntjie en die tema gehoorsaamheid is iets waaroor ons baie praat. Dit is wonderlik om te sien hoe kinders hul eie stemme begin vind, hul eie idees vorm en eie maniertjies ontwikkel. Om dit te bestuur sodat ’n kind steeds luister na raad, insig en kennis is vir ’n peuter (en sy ouers) ’n groot uitdaging.
Seker nie net vir peuters en hul ouers nie, maar vir gelowiges wat koppe EN harte het wat praat. Vir gelowiges wat geweld EN genade ken, en ore het wat hoor en oë wat sien. Een van die kragtigste gevolge van Pinkster is dat die Heilige Gees ons nie net verander in status voor God nie, maar in houding teenoor God. Die Gees bring nie slegs troos of krag nie, maar ook ’n nuwe gesindheid – gehoorsaamheid vanuit ’n veranderde hart.
Gehoorsaamheid is nie altyd gewild nie. Ons assosieer dit maklik met plig of selfs skuldgevoel. Maar die Gees verander die bron van ons gehoorsaamheid. Dis nie meer iets wat van buite op ons gedruk word nie, maar iets wat van binne groei. God sê Hy sal ’n nuwe gees en ’n nuwe hart gee – een wat gewillig is om Hom te volg.
Wanneer die Gees in ons werk, begin ons om God se wil te soek, nie uit vrees nie, maar uit liefde. Ons begin vra: Wat wil U hê, Here? Waarheen stuur U my? Wat moet ek laat staan? Dié vrae word nie ’n las nie, maar ’n voorreg.
Gehoorsaamheid in die Gees beteken nie volmaaktheid nie, maar ’n voortdurende beweeg in die rigting van Christus. Selfs wanneer ons struikel, rig die Gees ons op, lei ons terug, en herinner ons aan wie ons is: kinders van God, geroep om te leef tot sy eer.
Pinkstertyd herinner ons dat die Gees gehoorsaamheid moontlik en mooi maak.
Gebed
Heilige Gees van God,
U wat lewe gee en harte verander,
kom woon in my en lei my op u pad.
Waar my wil teenstribbel, bring U sagtheid.
Waar ek traag is om te volg, gee U moed.
Waar ek hardkoppig is, breek U saggies oop.
Here, ek wil U gehoorsaam – nie uit vrees nie, maar uit liefde.
Skenk my ’n hart wat u stem herken
en voete wat gewillig stap waar U lei.
Laat u Woord vir my ’n lamp wees,
en u Gees my gids in elke besluit.
Amen.
Ds Leanie Lemmer, Bellville