Handelinge 5: 17-42

Handelinge 5 is deel van ’n groter eenheid wat handel oor die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus in Jerusalem. Op grond van die wonders wat Petrus en die ander apostels gedoen het, word hulle egter deur die godsdiensleiers in Jerusalem aangekeer en beland hulle in die tronk. Die apostels word beskuldig van opstandige verset teen ’n amptelike bevel. Hulle is immers belet om mense van Jesus Christus te leer. Die Joodse Raad is so ontsteld dat hulle die apostels wil laat doodmaak. Maar Gamaliël, ’n Fariseër, oorreed die Joodse Raad om die apostels te laat gaan, want as dit waarmee hulle besig is mensewerk is, sal dit in elk geval op niks uitloop. Maar indien dit waarmee hulle besig is, voortgaan en groei, sal dit bewys word as God se werk en sal geen mens in daardie geval die werk kan keer nie.

Wat opvallend van hierdie vertelling is, is dat die apostels nie in moedeloosheid verval oor hul vervolging en vernedering nie. Hulle hou nie op grond van menslike gesag op om Jesus Christus te verkondig nie. Inteendeel, hulle beskou hulself as bevoorreg om ter wille van Jesus, die Christus, verneder te word, omdat Hy die Opgestane Messias is, die Verlosser. Daarom het die apostels die vrymoedigheid om voort te gaan met hul lering en verkondiging. Hierdie vrymoedigheid word deur die Heilige Gees in hulle bewerkstellig. Die Heilige Gees stel hulle in staat om ten spyte van vervolging deur wêreldse magte, hul geloofsvertroue in Goddelike gesag te plaas. 

Die kerk van die Here kon oor 2000 jaar heen die toets van die tyd deurstaan omdat die Heilige Gees gelowiges toerus om met vrymoedigheid te getuig van die opgestane Christus. Solank die kerk gehoorsaam bly aan God se gesag en getuig van God se krag in die opstanding van Jesus Christus, kan ons met vrymoedigheid ons geloof uitleef. Dan weet ons dat ons besig is met iets groter, met standhoudende werk, met God se werk en nie met mensewerk nie.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom