Matteus 5: 14
Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie (Matt 5: 14).
Koninkrykstyd is ’n wonderlike deel van die Kerklike jaar – dit herinner ons, dat ons nie net gelowiges is vir onsself nie, maar dat ons draers is van Christus se lig in en vir die wêreld. Wanneer Jesus hierdie woorde in die Bergrede sê, maak hy nie ’n voorstel nie, Hy rig ook nie ’n versoek aan ons nie, nee, Hy maak ’n stelling: Julle is die Lig. Deur hierdie kort frase leer Jesus sy dissipels, die skare en vir ons oor die leefstyl van God se Koninkryk.
Soos die maan die son se lig reflekteer, so moet ons ook God se Lig laat skyn, maar hierdie lig kom nie uit onsself nie – dit is die Heilige Gees in ons. Ons doel is om God se liefde, geregtigheid, vrede en hoop in ’n stukkende wêreld te reflekteer.
Ons weet van so baie mense wat met wanhoop, verdeeldheid of onreg worstel. Daarom moet ons soos ’n stad op ’n heuwel wees, ’n Lig op ’n heuwel wat die pad vir ander wys. Lig wys rigting aan, lig bring hoop, lig is sigbaar en simboliseer God se teenwoordigheid. Ons roeping as volgelinge van Jesus is nie net om te glo nie, maar om sigbaar anders te leef, sodat ander God se goedheid deur ons kan sien. Dalk is dit met ’n vriendelike woord, ’n daad van geregtigheid, ’n stil teenwoordigheid by ander se pyn.
Ons het nie nodig om perfek te wees nie, maar daar is verskeie maniere hoe die Gees ons kan gebruik om die lig om die heuwel te wees – jy moet net bereid en beskikbaar wees.
Kom ons dink vandag na oor hoe ons as gelowiges deel van God se werk in die wêreld kan wees, nie omdat ons die grootste prestasies bereik nie, maar omdat ons met liefde, waarheid en hoop leef.
Ds Yolandé de Lange, El-Flora