Nehemia 2: 9 tot 3: 32
Dit is wat Israel gedoen het nadat ’n ramp hulle getref het. Hulle het skouer aan die wiel gesit en die verwoeste stadsmuur van voor af gebou. Dinge het egter nie heeltemal so maklik gegaan nie. Sanballat en sy bondgenote het alles moontlik gedoen om te keer dat die mure van Jerusalem herbou en sy verdedigingstelsel opgeknap word. Selfs uit die binnekringe van die volk was daar dwarstrekkers.
Nehemia het ten spyte van al die uitdagings vertrou: God sal hierdie plan van die volk om die muur te herbou laat slaag.
En toe begin die werk. Van oraloor het die mense gekom om te help, uit alle vlakke van die samelewing en uit verskillende beroepe – mans en vrouens. Hul gesindheid was positief, hul harte was in die bouwerk. Hulle het ook nie net ’n stukkie van die muur herstel nie – die hele muur is herbou. Natuurlik is die belangrikste eerste gedoen, maar op die ou einde is alles gedoen.
Ons kan nie toelaat dat ons vrese en ons gemoedstoestand ons gehoorsaamheid aan God beïnvloed nie. Ons moet op sy krag vertrou en nie op ons eie vermoëns nie. Nehemia het goed beplan en gebid dat God sy planne sal laat slaag. Dit bring ons weer by die saak van gebed – daarsonder kan ons maar ophou swoeg en sweet. Ons moet bid en doen. Omdat God altyd en oral in beheer is, gee dit vir ons die vertroue om ons werk aan te pak en deur te voer.
Wat is die belangrikste om in die kerk te doen? In die eerste plek sekerlik tog om die Here te dien. Al die dinge wat ons in die gemeente doen, moet daarom gaan dat ons die Here daarmee wil dien. Daarom is daar nie een ding wat belangriker as ’n ander iets is nie. Die finansiële komitee is nie belangriker as die kategete nie, en die kerkraad is nie belangriker as die lidmaat wat die siekes en eensames besoek nie. U en ek het elkeen sy taak. Doen dit!
Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend