Melaatsheid word in die Bybel beskryf as een van die gevreesde dinge wat ’n mens kon oorkom. Wat die melaatsheid waarna in die Bybel verwys word egter presies was, is ’n goeie vraag met interessante antwoorde.

Die begrip wat met melaatsheid vertaal word, of waarmee na melaatses verwys word, kom 68 keer in die Bybel voor, 55 keer in die Ou Testament en 13 keer in die Nuwe Testament. Die kern van die betekenis van die begrip verwys na ’n velsiekte.

Melaatsheid en Hansen se Siekte

In die moderne mediese wetenskap word deesdae eerder van Hansen se Siekte gepraat as van melaatsheid, na aanleiding van die Noorweegse dokter Gerhard Henrik Armauer Hansen wat in 1873 die bakteriese oorsaak van die siekte gevind het.

Die infeksie word veroorsaak deur die bakterie Mycobacterium leprae, wat die vel, senustelsel, oë en neusvleuels aantas. Die bakterieë val die senustelsel aan, wat tot gevolg het dat die aangetaste area onder die vel geswel raak. Daardie bakterieë kan tot 20 jaar lank sluimerend wees voordat enige teken of simptome daarvan begin wys. In die reël verkleur die vel ook ligter of donkerder.

Die probleem waarmee navorsers vandag worstel, is of hierdie moderne verstaan van melaatsheid dieselfde is as die Bybel se verwysing na ’n velsiekte soos wat dit in Levitikus 13-14 beskryf word. Die ontwikkeling van nuwe begrippe en vertalings van die woord wat na die velsiekte in die Ou Testament verwys, het ’n groot invloed op die interpretasie van wat die Bybelskrywers presies met die uitdrukking bedoel het.

In die Ou Testament word na hierdie velsiekte verwys as tu^r*x* (tsārāʿat). Die Septuaginta (LXX), die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks van die Ou Testament, het die woord tu^r*x* (tsārāʿat) as ἀφη λεπρας (aphe lepras) vertaal. Dié woord het die betekenis geïmpliseer van ’n veltoestand wat oor die hele liggaam versprei het.

’n Groot groep navorsers is daarvan oortuig dat die Bybelse verwysing na die veltoestand wat met melaatsheid vertaal word, niks met die moderne begrip van melaatsheid te doen het nie.

Buite-Bybelse verwysings na melaatsheid

Dit is interessant hoe ver terug in die geskiedenis daar verwysings na velsiektes bestaan. Argeoloë het ’n erdekruik in die tempel van Amenophis III gekry met daarop uitgebeeld ’n gesig wat aan die beskrywing van melaatsheid herinner. Dié kruik dateer uit die tydperk 1411-1314 vC. Dié tyd stem ongeveer ooreen met die tyd toe die Israeliete se uittog uit Egipte moontlik plaasgevind het.

Kundiges van antieke Egiptiese erdekuns is baie skepties dat die gesig op die kruik met melaatsheid verband sou hou. Melaatsheid en blindheid is gedurende die antieke en Bybelse tyd as ’n goddelike vloek beskou. Die moontlikheid dat pottebakkers kruike waarin vloeistof of graan geberg is, met melaatse motiewe sou versier, is ondenkbaar. Sulke motiewe is nog nêrens in die wêreld gevind nie. Dié versiering stem meer ooreen met die ruwe versiering op die Toby-kruik wat in die landelike gebiede gekry is.

Pogings om die Babiloniese woorde en hiërogliewe in die Egiptiese Ebers-papirus (1300-1000 vC) met melaatsheid te vertaal, blyk ook bedenklik te wees. Om die waarheid te sê, kundiges het reeds bevind dat daar vóór die jaar 600 vC. eintlik geen kennis van melaatsheid bestaan het nie.

Argeologies gesproke kon nog nooit enige konkrete bewys gevind word dat melaatsheid onder die kinders van Israel bestaan het terwyl hulle in die land Goosen gebly het nie.

Die Bybel en die velsiekte

In die Bybel word die velsiekte as ’n aankondiging van straf voorgehou. Die eerste verwysing na ’n velsiekte kom in Eksodus 4: 6-7 voor wanneer God aan Moses opdrag gee om sy hand by sy bors in te steek, en wanneer hy dit uithaal, dit so wit soos sneeu aangetas was. Moses moes die siekte ontvang as bevestiging dat God die farao gaan straf. Die vraag is of hierdie toestand wél die melaatsheid soos in Hansen se Siekte was.

Benewens Moses, word in die Hebreeuse Bybel nog vyf gevalle genoem waar iemand die veltoestand opgedoen het:

  1. Miriam omdat sy teen Moses in verset gekom het as gevolg van sy huwelik met ’n Kussitiese vrou (Num 12: 10).
  2. Die Siriese leëraanvoerder Naäman (2 Kon 5: 1, 14).
  3. Elisa se dienskneg, Gehasi, wie se velsiekte so wit soos sneeu geword het (2 Kon 5: 27).
  4. Ussia, die koning van Juda, omdat hy wederregtelik tot die Here geoffer het (2 Kon 15: 5; 2 Kron 26: 20-21).
  5. Vier naamlose melaatses wat by die ingang van die stadspoort van Samaria gestaan het (2 Kon 7: 3).

 

Die Nuwe Testament verwys ook na ’n aantal gevalle, maar sonder om enige name te noem (Matt 8: 1-4; Mark 1: 40-45; Luk 5: 12-14; Luk 17: 11-19). Die grafika hierby is ’n  mosaïekuitbeelding uit die 12de-13de eeu van Jesus se genesing van ’n melaatse (Matt 8: 1-4); dit is opgeneem in die Monreale-katedraal in Sicilië (© National Catholic Register).

In al hierdie gevalle word die velsiekte as ’n straf van God óf as ’n teken van onreinheid verduidelik. Weer ontstaan die vraag of hierdie toestand inderdaad ook die melaatsheid was volgens Hansen se siekte.

Volgens Levitikus 13 het die siekte aanvanklik as ’n uitslag op die vel verskyn. Dit sou die persoon onrein maak (Lev 13: 2). Die behandeling van die toestand was dat die priester daaroor moes beslis. As die plekkie verdag gelyk het, moes die aangetasde hom buite die stad se poorte gaan afsonder en homself heeltemal bedek, en verder moes hy sy klere skeur en sy hare onversorg laat. Wanneer iemand binne 50 tree van hom af kom, moes hy hard skreeu: Onrein! Onrein! (Lev 13: 45-46).

Die interessante, wat as ’n verdere aanduiding dien dat die Levitiese beskrywing van die siekte nié dieselfde as Hansen se Siekte is nie, is die bepaling dat wanneer die siekte oor die hele liggaam versprei, sodat die persoon se hele lyf daarmee bedek is, die persoon dan as rein verklaar kon word (Lev 13: 13). In aansluiting hierby, word ook bepaal dat iemand wat met tu^r*x* (tsārāʿat) geïnfekteer is, se klere of huis dan ook onrein is, wat nie met melaatsheid die geval is nie.

Die Bybelskrywer(s) se bedoeling met die verwysing na die velsiekte was om die teenwoordigheid daarvan as ’n simbool van onreinheid voor te stel. Dié teken van onreinheid is dikwels as ’n metafoor vir sonde gebruik. As iemand sonde teenoor God pleeg, het hy by wyse van spreke sy verhouding met God groot skade berokken. Hy het onrein, of melaats, geraak.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)