Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (Matteus 11: 28)

Lees Matteus 11: 28-30

Danie Botha sing: Wenners, wenners, wenners, wenners moet ons wees. Die liedjie sit ’n ondraaglike las op ’n mens, die las om wenner te móét wees. In die regte lewe wen jy nie altyd nie. Meestal bevind jy jou in die geledere van dié wat swoeg en sweet in die wedloop van die lewe en al wat jy ken, is die nimmereindigende stryd om net aan te hou om die een voet voor die ander te sit.

Het die realiteit dat jy nie elke dag die glorie van wenner-wees gaan beleef nie, al by jou ingeskop? As dit het: Welkom hier tussen ’n klompie gekraaktes!

Welkom hier, voel tuis, daar is baie gekraaktes, eintlik is dit maar almal. Almal het al houe gevat in die lewe, houe wat maak dat ons met ’n klomp krake in ons monderings deur die lewe gaan. Stukkend is ons nog nie heeltemal nie. Dit voel soms so, maar tog hou ons op ’n manier nog dinge bymekaar, maar dat ons gemoedere ’n klomp krake langs die pad opgetel het, is gewis.

Soos jy deur die lewe beweeg, beweeg jy tussen mense wat nes jy so ’n bietjie gehawend is, ver van volmaak is. Welkom hier tussen die gekraaktes. Kom ons werk sag met mekaar, kom ons werk ook sag met onsself, want sien, om krake te hê, is nie ’n skande nie, eintlik is dit ’n seën. Elke ding het maar sy kraak, maar dis juis dié krake wat die lig laat inkom!

2 Korintiërs 4: 6 beskryf hoe dié lig werk: God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Paulus gaan voort om op ’n baie mooi manier te sê dat ons nou hierdie skat, die lig van God wat in ons harte skyn, het, maar ons bly kleipotte wat maklik breek: Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie (vers 7).

Ons ervaar soms baie druk, tog is ons nie terneergedruk nie; ons het soms nie meer raad vir onsself nie, maar ons is nooit radeloos nie; mense maak ons seer, laat ons in die steek, maar God sal ons nooit verlaat nie – sien, die lig wat deur die krake skyn, laat ons beter sien dat Jesus vir ons gesterf het, maar ook opgestaan het uit die dood. Ons deel in die verlossing wat sy sterwe gebring het, net soos ons deel het aan die heerlikheid van sy opstanding.

Daarom: Kom ons werk sag met mekaar, want dis hoe God met ons wil werk.

Ons sien dit in die uitnodiging van Jesus in Matteus 11: 28-30: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap