In hierdie aflewering fokus ons op die werksaamhede van prof Jaco Beyers, adjunkdekaan van UP se Fakulteit Teologie en Religie, hoof van die Departement Godsdiensstudies,  en deeltydse leraar in Gemeente Centurion-Oos.

Om verslag oor jou eie lewe te gee, is ’n haas onmoontlike saak. Op versoek van die redakteur deel ek graag so ’n oorsig van ’n tipiese dag in my lewe.

Ek is maar net ’n gewone mens. ’n Mens wat ook moet eet, slaap, gras sny, kar was, honde stilmaak en kinders rondry. Glo dit as jy wil, maar dosente het ook (gewone) lewens.

Tuis wees

’n Dag begin met vroeg opstaan om ontbyt vir die gesin voor te berei terwyl die kinders gereed maak vir skool. Ná ontbyt en nadat die kinders vertrek het skool toe, kry ek kans om ’n paar keer om die blok te draf. ’n Gesonde liggaam is mos veronderstel om ’n gesonde gees te huisves. Dan kan werk begin. Vroegoggendwerk is dagboek beplan, dalk lesings voorberei en so ’n paar e-posse beantwoord. Dan maak ek klaar om kampus toe te gaan.

Kantoorwerk

’n Dag in die kantoor van die adjunkdekaan lyk elke dag anders. Daar is studente met vrae en bekommernisse, en daar is personeel met voorstelle en klagtes. Sommige klassifiseer vergaderings as werk; vir my is vergaderings onvermydelike ergernisse wat die dagboek vol maak. Tussendeur dit alles moet ek ook nog lesings aanbied.

My amptelike werkomskrywing sluit opdragte in soos lees alle relevante studiemateriaal op jou vakgebied, doen navorsing en skryf artikels of boeke en publiseer, ontwerp en bied lesings aan, beplan die toekoms, leer lesse uit die verlede. So goed ek kan, probeer ek elke dag aan al hierdie take uitvoering gee. ’n Kollega het my vroeg reeds geleer: Lees en skryf elke dag, al is dit dan net een paragrafie per dag.

Die moeilikste werk is natuurlik die onvoorsiene en onbeplande sake wat jou aandag opeis. Daarvan is daar elke dag talle voorbeelde. Dalk is dit ’n e-pos wat onmiddellik jou aandag eis (soos ’n student wat vergeet het van ’n toets), of ’n ramp wat dreig om te gebeur (die elektrisiteitstoevoer tot die Fakulteitgebou is afgesny), of ’n radio-omroeper wat oor 30 minute ’n onderhoud oor ’n tema wil voer. Beste is om jou gereed te hou vir elke onvoorsiene aktiwiteit.

Nagskof

En as ek die dag op kantoor oorleef het, en huiswaarts kan keer, begin ’n volgende fase. Ek het die voorreg om deeltyds by ’n gemeente werksaam te wees. Dit beteken alle kerkvergaderings, huisbesoeke, hospitaalbesoeke of preekmaak moet in die aand gebeur. Dit is vir my belangrik om by ’n gemeente betrokke te bly en om te hoor wat leef in gelowiges se harte en wat is die geloofsvrae waarmee hulle worstel.

Elke aand se werksprogram mag dalk verskillend verloop, maar daar is vaste bakens in die aandprogram in ons huis. In ons huishouding is daar drie goue reëls: Ons eet saam; ons bid saam; en ons vier saam. Dit beteken dat ons elke maaltyd (buiten middagete) saam om ’n tafel deurbring. Dan gesels en kuier ons. Elke aand bid ons saam en herinner ons mekaar aan ons geloof in Jesus Christus. As daar vreugdes of hartseer is, dan deel ons die vieringe of ondersteun mekaar.

Beginsels

Oor die jare heen, deur elke dag se dagtaak, het ek probeer om beginsels neer te pen om my te help om my dagtaak sinvol af te handel. Van hierdie beginsels deel ek graag:

  • Doen wat jy doen goed die eerste keer – daar is nie altyd tyd vir ’n tweede keer dieselfde ding oordoen nie.
  • Doen wat jy dadelik kan doen, dadelik – van uitstel kom vergeet.
  • Werk hard wanneer dit nodig is – jy gaan weer tyd kry om te rus.
  • Rus goed wanneer jy tyd kry om te rus – jy gaan dalk gou weer moet begin werk.

Elke dag besef ek opnuut weer hoe afhanklik ek van God is om die alledaagse, selfs geringe take, af te handel.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap