Die jare stap aan, en eensklaps moet groot besluite geneem word oor die lewe na aftrede. Gaan die beskikbare fondse genoeg wees om ’n sekere lewenstandaard te handhaaf? Moet ’n toelae van die staat nie dalk oorweeg word nie?

Staatstoelae het aan die begin van 2019 verhoog, en die staat spandeer nou R567 miljard daaraan. Die hoeveelheid mense wat afhanklik is van staatstoelae sal na verwagting vermeerder van 17,9 miljoen tot 18,6 miljoen mense in die volgende drie jaar.

Daar is verskillende vorme van staatstoelae. Hierdie artikel fokus op die ouderdomstoelaag, ook genoem staatspensioen.

Die vereistes vir staatspensioen is die volgende:

  • Die eerste vereiste is dat die persoon ’n Suid-Afrikaanse burger moet wees wat ’n permanente inwoner is, of wat ’n vlugteling is. Met ander woorde, ’n vlugteling kan ook kwalifiseer, maar dan moet hy/sy spesifiek vlugtelingstatus by die staat verkry het.
  • Moet woonagtig wees in Suid-Afrika.
  • Moet ouer as 60 jaar wees.
  • Enkellopende persone of getroude pare gesamentlik moet ’n sekere middeletoets slaag.
  • Die persoon moet nie onderhou en befonds word deur ’n instansie wat befonds word deur die staat nie – byvoorbeeld ’n tronk, ’n rehabilitasiesentrum of ’n bejaardesorgtehuis van die staat nie.

Aangesien maatskaplike bystand, soos staatsubsidies, bedoel is vir mense wat hulself nie kan ondersteun nie, kyk die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (SASSA) na die inkomste en bates van die persoon wat vir ’n maatskaplike toelaag aansoek doen om vas te stel of die persoon kwalifiseer om ’n toelaag te ontvang of nie. Slegs mense wat ’n maandelikse inkomste onder ’n sekere vlak het, kan die toelae kry. Die toets om daaroor te besluit, word ’n middeletoets genoem.

Hoeveel is die staatspensioen?

Die bedrag verander elke jaar. Staatspensioen is aan die begin van hierdie jaar verhoog na R1 780 per maand. Enige verandering in die staatspensioen word elke jaar weerspieël in die nasionale begrotingsrede of tydens die opening van die Parlement.

Wat moet jy weet oor die aansoekproses?

Jy kan aansoek doen vir staatspensioen deur ’n aansoekvorm by die naaste SASSA-kantoor in te vul en die volgende inligting saam te bring:

  • Jou amptelike identiteitsdokument (ID).
  • Bewys van jou huwelikstatus (indien van toepassing).
  • Bewys van jou adres.
  • Bewys van jou privaatpensioen (indien enige).
  • Drie maande se bankstate.
  • As jy in diens was, die “blou boek” van die Werkloosheidsversekeringsfonds of ’n ontslagbewys van jou vorige werkgewer.
  • As jou gade gedurende die afgelope vyf jaar gesterf het, moet jy afskrifte bring van die eksekuteur se doodsertifikaat, die oorledene se testament en die finale likwidasie- en distribusierekeninge, waar van toepassing.

Let wel: As jy te oud of siek is om na die kantoor te reis om aansoek te doen, kan ’n familielid of vriend namens jou aansoek doen. Die persoon moet ’n brief van jou en/of ’n doktersnota neem en sê hoekom jy nie die kantoor kan besoek nie.

Voltooi die aansoekvorm in die teenwoordigheid van die SASSA-beampte (let daarop dat slegs jy as die aansoeker of ’n SASSA-beampte die aansoekvorm kan voltooi). Die beampte sal jou ondervra en vir jou sê of jy vir staatspensioen kwalifiseer.

Alhoewel die aansoek gratis is, sal u ’n kwitansie ontvang. Hou dit as bewys dat jy aansoek gedoen het.

 

[Ds Frikkie van Wyk, voorsitter van die OTMT Direksie, het vir Blitspos van 1 Augustus vanjaar ’n voorbladartikel geskryf oor Ons Tuis: OTMT. Dié maatskappy funksioneer onafhanklik, maar steeds binne die raamwerk van die Kerk se diens van barmhartigheid. Die direksie word so saamgestel dat die bydraes van sowel die NHSV (Monumenttehuise) as Ons Tuis erken word.

Kyk gerus wat alles die afgelope 18 maande by die tehuise gebeur het. Klik hier vir ’n videogreep.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap