Vanoggend vroeg het ons die kop op die plaas uitgeklim om na die sonsopkoms te kyk. Die natuur is so stil en vreedsaam dié tyd van die oggend. Stadig begin die dag breek op die horison en word ’n mens intens bewus van die stilte en die natuur om jou.
In die Karoovlaktes is windpompe sigbaar en staan hulle regop en trots in die oggendgloed. In die verste kamp hiervandaan sigbaar, staan twee windpompe kop onderstebo teen die lug. Hulle lyk eensaam en treurig in vergelyking met die ander windpompe waarvan die wiele rustig draai in die oggendbries.
Ek vra my man wat het met daardie windpompe gebeur. “Ounooi, soos jy weet, is hierdie deel van die Karoo nie gewoond aan stormsterk wind nie, soos die een wat twee weke gelede hier gewoed het net voor die kapok geval het. In die Kaap waar jy grootgeword het, is die wind die meeste van die tyd stormsterk. As daar ’n storm opsteek, moet die briek van die windpomp vasgedraai word, want as die wiel te vinnig draai, breek die kop. Soms ruk die wind hom uitmekaar, waai die wiel weg, of soos daardie twee, hang die koppe vooroor. Met dié dat hulle in die verste kamp is, was daar nie tyd vir my en Jonas om die windpompe se brieke te gaan vasdraai nie. Ons moes Hendrik help met die bokke en ooie wie se lammers nog baie jonk is. Hulle moes na die skuur gebring word anders kon hulle verkluim deur die nag, veral as die kapok baie diep val.”
Ek kyk om my heen. Hoe rustig en vol vrede is die vroeë oggend, en my gedagtes begin dwaal.
Ons as gelowige mense is soos windpompe wat in die lewe staan, stewig vasgeanker in ons geloof oor die put van lewende water. Die wiel van ons siel draai in die wind van die Heilige Gees wat oor die aarde sweef. Soos die wiel in die rondte draai met die Heilige Gees omring, stoot die water van die lewe uit die lewensfontein diep in ons siel na bo en voed ons geloof en gee ons hoop vir die toekoms. Die water is glad en blink en weerspieël God se teenwoordigheid in ons lewe.
Wanneer die verwoestende winde van versoekings en sonde teen ons waai, word ons rem van geloof vasgedraai sodat die stormwind van die sonde en afvalligheid ons nie vernietig nie.
Wanneer die Heilige Gees stil die lug om ons vul, staan ons gestrek en regop teen die blou lug in God se vrede, gevoed en verkwik deur die lewende water van God se heilsfontein.
Heer, waar mense doelloos deur die sonde rondgewaai word soos ’n tolbos op die Karoo se vlaktes, mag hulle teen my vaswaai en deel in die vreugde, liefde en hoop van U wat deur my windpomplyf waai. Mag hulle drink van die dam van genadewater wat U na die oppervlakte van my lewe bring sodat hul dors geles kan word en hulle in u vrede kan leef. Amen.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
NHSV Streekvoorsitter: Oos-Kaap