Die konsepwisselformulier fokus op geloof as ‘n dankbare antwoord op God se genade en die verantwoordelikhede wat die aflegging van geloofsbelydenis meebring. Dit is in ooreenstemming met die HK (antwoord 21) en die NGB (Artikel 22).

Liturg:

Die katkisante wat van voorneme is om hulle geloof te bely, word gevra om voor die kansel te kom staan.

Geliefdes van ons Here, Jesus Christus!

God het die wêreld so lief dat Hy sy Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Met die doop bevestig God hierdie genade aan ons. God se liefde dring ons om ons geloof te bely. Die verrassende is dat die Woord van God ons leer dat geloof nie uit onsself kom nie – dit is ‘n geskenk van God. Die Heilige Gees wek geloof in ons wanneer ons die Woord van God hoor. Sommige van ons kon reeds van kleins af in God glo. Ander van ons het God eers later leer ken. Geloof in Jesus Christus bring ons in ‘n lewende verhouding met God.

Hierdie verhouding word ook sigbaar waar ons meeleef met die kerk as liggaam van Christus. Dit is ‘n voorreg om God se kinders te wees en aan sy kerk te behoort. Daarom bely ons telkens opnuut en met verwondering ons geloof.

Hierdie verwondering dring ons om gereeld tot God te bid, die Bybel as Woord van God getrou te bestudeer en ons lewe daarvolgens in te rig. Wanneer ons bewus word van ons onvermoë om volgens sy wil te lewe, moet ons ons skuld bely en ons telkens weer tot God bekeer. As lidmate van sy kerk wil ons diensbaar wees in sy gemeente en ons hou aan die kerklike dissipline.

God gebruik die opvoeding vanuit die ouerhuis, die kerk se kategese en die prediking om ons oor al hierdie sake te onderrig. Die ouderlinge is tevrede dat julle voldoende onderrig is, dat julle besef wat die geloof in God beteken, en hoe julle as Christene moet leef. Daarom kry julle nou geleentheid om julle geloof voor God en sy gemeente te bely.

Die katkisante moet nou op die volgende vraag antwoord:

Liturg:

Noudat julle gehoor het wat dit beteken om te glo, wil julle ook saam met die kerk van alle eeue julle geloof bely?

Katkisante:

Ja

Liturg:

Ek vra dat elkeen met die uitlees van sy/haar naam, op die volgende vraag antwoord:

Bely jy voor God en sy gemeente, soos wat ons in die Woord van God leer en dit in ons belydenisskrifte belig word, dat jy glo in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees? NN wat is hierop jou antwoord?

Katkisant:

Ja, ek glo in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

(Na gelang van omstandighede kan die liturg besluit om een van die volgende opsies nou by te voeg).

Opsie 1

Liturg:

Ek gee nou aan julle die geleentheid om julle geloof aan die hand van die 12 geloofsartikels hardop saam te bely.

Opsie 2

Liturg:

Kom ons bely nou as gemeente saam met die een heilige algemene Christelike kerk, ons geloof deur die 12 Artikels hardop te sê.

Opsie 3

Liturg:

Kom ons bely nou as gemeente saam met die een heilige algemene Christelike kerk, ons geloof deur te sing uit Gesang …

Indien daar katkisante is wat nog gedoop moet word, vind dit nou plaas sonder om die doopformulier te lees.

Liturg:

Op grond van julle doop en die belydenis van julle geloof verklaar die ouderlinge julle tot belydende lidmate van die NHKA.

God die Vader het julle op grond van sy genade geroep om deur Jesus Christus ewig aan Hom en sy kerk te behoort. Mag God julle deur sy Woord en Gees lei, in die geloof versterk en julle krag gee om by hierdie belydenis te bly. 

Amen

In die Naam van Jesus Christus, die Hoof van die kerk, roep ons julle op om gereeld saam met die gemeente die Nagmaal te vier en met toewyding deel te neem aan die gemeentelewe tot uitbreiding van die koninkryk van God.

As medegelowiges onderneem ons om julle as broers en susters van Christus lief te hê, met ons gawes te dien; vir julle te bid; vir julle ‘n voorbeeld te wees in die geloof en julle met deernis te ondersteun in die geloof wat julle vandag bely het.

Gebed:

Ons kan niks in eie krag doen nie. Kom ons bid saam:

Here God, ons dank U dat ons vandag weer op grond van u genade ons geloof in U kon bely. 
Vader, dankie dat ons in Christus u kinders is en in u genadeverbond ingesluit is. 
Dankie dat U ons deur u Heilige Gees geloof skenk en dit versterk deur die verkondiging van u Woord en die gebruik van die sakramente. 
Dankie dat U ons in u diens wil gebruik en daarvoor toerus met die gawes van u Gees. 
Ons bid in die besonder dat U hierdie nuwe lidmate deur u Gees sal lei en sterk in hulle geloof . Ons wil U oral as Here eer en erken. Vergewe ons wanneer ons U wel verloën. 
Maak ons altyd gehoorsaam aan u Woord. Help ons om as dissipels U getrou te volg en in u kerk te dien. 
Here, beskerm, versterk en laat groei u kerk. 
Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus, ons Middelaar en Verlosser. 

Amen

Seënbede:

Liturg:

Kom ons bid die nuwe belydende lidmate die seën van die Here toe deur te sing uit Gesang…

Share via
Copy link
Powered by Social Snap