Gemeente van ons Here Jesus Christus!

God het ons lief en ons is sy kinders lank voordat ons van God bewus raak. Dit word deur die doop bevestig. Die doop is een van die kerk se twee sakramente. Dit gee sigbaar uitdrukking aan God se verbond met ons. Die doop getuig dat ons deel het aan die liggaam van Jesus Christus op grond van sy versoeningsdood en die werk van die Heilige Gees. Die genade van God, die liefde van Jesus Chris-tus en die gemeenskap met die Heilige Gees het betekenis vir ons hele lewe. Daarom doop die kerk kinders van God. Die doop van hierdie kind(ers) van God herinner ons vandag opnuut aan ons eie doop.

Ons glo dat die Kerk die opdrag uit die evangelie het om mense in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop. Die doop in die Naam van die Vader getuig van ons nuwe verhouding met God. Die doop in die Naam van die Seun bevestig aan ons die verlossing deur Christus. Die doop in die Naam van die Heilige Gees is die waarborg dat die Gees van God in ons wil bly en voortdu-rend ons lewe nuut maak.

Die doop roep ons op om God lief te hê. Dit is belangrik dat gelowiges die betekenis van hulle doop sal uitlewe. Ouers en die gemeente moet daarom hulle kinders leer wat die doop beteken. Ons kinders behoort in die lewe van die gemeenskap van gelowiges te ervaar wat dit beteken om aan God te behoort.

Die doopouers/dopelinge (in geval van volwassenes) word nou versoek om na vore te kom en hier in teenwoordigheid van God en die gemeente, eerlik op die volgende vrae te antwoord:

1. Glo u dat ons en ons kinders ondanks ons sonde deur God in genade aangeneem is?

2. Glo u dat die evangelie alles bekend maak wat nodig is vir ons verlossing, soos belig 
in ons belydenis?

3. Belowe u om u kind te leer wat die doop beteken en te laat grootword in die geloofsgemeenskap 
van Christus?*

(*Met die doop van volwassenes word slegs vraag een en twee gevra.)

Wat is hierop u antwoord? Ja.

NN, ek doop jou in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Amen.

Dankgebed na die doop (‘n Vry gebed, of ‘n lied soos Gesang 290, kan ook hier gebruik word):

Dankie, Here, dat ons as gemeente by hierdie geleentheid daarvan oortuig kan wees dat: 
U as Vader ons liefhet; 
U Seun ons red; 
U Gees in ons harte woon.

Dankie, Here, dat ons opgeneem is in u verbond. 
Dankie dat u hierdie gedooptes sigbaar as u kind(ers) aangeneem het. 
Dankie dat ons deel kan wees van hierdie gemeente wat aan ons ‘n geestelike tuiste bied. 
Dankie dat ons hier u evangelie kan hoor en gemeenskap met U en met mekaar uitleef.

Neem tog ons lof en aanbidding aan.

Here, lei ons – en in besonder hom/haar/hulle wat pas gedoop is – 
om altyd die warmte van u nabyheid te ervaar 
en altyd tot u eer te lewe.

Inspireer ons om altyd na ander uit te reik.

Vader, gee dat ons die betekenis van ons doop ons eie sal maak. 
Jesus, Here, gee dat ons lewe van u verlossende teenwoordigheid sal getuig. 
Heilige Gees, vervul ons sodat ander in ons lewe kan sien dat U ons lei en troos.

Ons bid vir die doopouers, gedooptes en die gemeente. Gee aan ons die krag en geleenthede om ons voorneme getrou na te kom.

Ons bid dat hierdie gedooptes tuis sal wees in die geloofsgemeenskap van Jesus Christus, die Here. 

Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap