Die wisselformulier fokus op die nagmaal as herinneringsmaal (verlede), versorgingsmaal (hede) en ‘n feesmaal wat gerig is op die toekoms. Hierdie betekenis van die nagmaal is in ooreenstemming met die NGB (artikel 35) en die HK (antwoord 76).
Geliefdes in ons Here Jesus Christus!
Die Here Jesus het voor sy dood saam met sy dissipels brood en wyn geneem en gesê dat hulle dit moet gebruik tot sy gedagtenis. Daarom vier ons die nagmaal.
Die nagmaal is een van die kerk se twee sakramente tot versterking van ons geloof. Met die tekens van brood en wyn verseker Jesus Christus ons deur sy Gees van ons gemeenskap met God en met mekaar. By die tafel van die Here is ons ook saam om God te verheerlik.
Ons glo dat die Here deur sy Gees by hierdie feesmaal teenwoordig is. Wanneer ons die brood en wyn ontvang herinner dit ons dat ons verlos is deur die dood en opstanding van Jesus Christus. Deur geloof in Jesus Christus het ons saam met Hom gesterf en staan ons saam met Hom op tot ‘n nuwe lewe.
Die nagmaal wil ons daarvan verseker dat ons aan Christus deel het. By hierdie maaltyd rig die Here ons hoop ook op die hemelse feesmaal saam met God en al die gelowiges. Ons behoort vir ewig aan God. Daarom hoef ons niks te vrees nie. Christus is die Een wat was, wat is en wat kom – die Here van die toekoms.
Rondom die tafel word die gemeenskap van gelowiges sigbaar. Ons het immers almal deel aan hiérdie brood en wyn. Die liefde wat God aan ons skenk bind ons aan mekaar. Voor ons by die tafel aansit moet ons onsself eers ondersoek en afvra of ons bereid is om deur ons doen en late hierdie band van liefde te versterk.
Ons is bewus van ons eie sonde en het daaroor berou. Omdat Jesus Christus ons vergewe mag ons by sy tafel aansit. Die deelname aan die nagmaal wil ons opnuut van sy genade verseker.
Wanneer ons van die tafel af opstaan, stuur God ons om wêreldwyd te getuig van sy versoening, sorg en liefde. God versorg ons met hemelse en aardse brood. Kom ons versorg uit dankbaarheid ander ook só.
Voordat ons aan die tafel van die Here aansit, laat ons bid.
Gebed:
(‘n Vry gebed of ‘n gesang soos Gesang 568
Here, dankie dat ons vandag aan u tafel mag aansit. Ons glo dat U by ons is en ons versorg. Versterk ons geloof. Voed ons met die ware hemelse brood en wyn, Christus Jesus, ons hoop en lewe. Verseker ons deur u Gees dat ons deel het aan sy lewe, sterwe en opstanding. Was ons sonde af deur sy bloed. Raak ons só aan, dat ons dankbaar as u kinders sal leef. Stuur ons en maak ons oë en harte oop vir almal in nood en laat ons na hulle uitreik. Gee ons die geloofsoortuiging om Christus met woord en daad te verkondig.
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.
Gee ons vandag
ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredings
soos ons ook dié vergewe
wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie
maar verlos ons van die Bose.
Aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen
Uitnodiging aan persone buite die gemeente:
Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die tafel van die Here! Belydende lidmate van gemeentes van ons Kerk en van ander kerke met dieselfde belydenis is welkom, mits u in u eie gemeente ook die voorreg geniet.
Oproep tot gelowige deelname (tafelformule):
Broers en susters, laat ons nie ons gedagtes rig op die uiterlike tekens van brood en wyn nie, maar op die betekenis daarvan, naamlik die versoening in Jesus Christus, ons Here.
Uitnodiging na die nagmaal:
By die tweede en daaropvolgende tafels
Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof (Matt 22:4).
Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar (Luk 14:17).
Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd (Ps 104:27)!
Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg (Ps 104:28)!
Kom, gemeente, laat ons ons oë op die Here rig; want Hy voed ons op sy tyd (Ps 145:15)!
Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word (1 Kon 19:7).
Kom, laat ons feesvier. Hierdie kind van my was dood, en hy lewe weer; was verlore en Ek het hom teruggekry (Luk 15:32).
Wanneer die brood gebreek en uitgedeel word, sê die bedienaar:
Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus.
En wanneer die beker aangegee word:
Die beker wat ons drink, is die gemeenskap met die bloed van Christus.
Eet en drink, doen dit tot sy gedagtenis. Jesus Christus is die Een wat was, wat is en wat kom.
Na die bediening van die laaste tafel volg ‘n dankgebed/danklied.
(Psalm 103 of byvoorbeeld Gesang 529