(Die wisselformulier fokus op die versorgingskarakter van die huwelik. Die belydenisskrifte sê baie min oor die huwelik.)

Geliefdes van ons Here, Jesus Christus!

God het mense geskep om in verhouding met mekaar te leef. God se sorg kom in die besonder daarin na vore dat man en vrou as hulp vir mekaar bestem is. Die geestelike en liggaamlike eenheid tussen man en vrou vind vervulling in die intieme ruimte van die huwelik.

Ons is as getuies in die naam van God bymekaar om NN en NN in die huwelik te bevestig en God se seën daarop te vra.

Egpare se sorg vir mekaar word sigbaar daarin dat hulle in gehoorsaamheid aan die evangelie van Jesus Christus mekaar geestelik versorg. So leer ons om mekaar waarlik lief te hê en te dien. In die gebroke wêreld waarin ons leef kan daar konflik in die huwelik wees. Die liefde tussen julle twee moet God se liefde weerspieël. Geloof, gebed en gehoorsaamheid aan God kan verhoudings herstel.

Getroudes moet mekaar emosioneel ondersteun en beskerm. Dra mekaar se laste.

Bly in alle omstandighede getrou. Bou mekaar op in wat edel en mooi is. Só kan ons vrede en vreugde ervaar.

Julle moet saam verantwoordelikheid aanvaar vir die pligte van julle huishouding. Leef sober. Waak teen uitspattigheid en materialisme. Betoon barmhartigheid teenoor ander.

God skep ook ruimte vir julle in sy kerk. Skakel in, werk saam en dra by tot die instandhouding van die gemeente waar julle ‘n geestelike tuiste vind. Deelname aan die gemeente bou die huwelik en die geloofsgemeenskap op. Betrokkenheid na buite dra die lig van die evangelie verder uit en verheerlik God in die wêreld.

Getroudes wat van die Here kinders ontvang, ontvang ‘n kosbare geskenk. Ouers moet hulle geloof só uitleef dat hulle vir hulle kinders ‘n voorbeeld is. Daardeur leer kinders God ken en vertrou.

Vrae:

Noudat u dit alles gehoor het, is u bereid om u huwelik in te rig volgens die riglyne van God se Woord en wil u voortgaan met die huweliksbevestiging?

Huwelikspaar antwoord:

Ja.

Om u huwelik volgens die vereistes van die landswet te bevestig, moet u op die volgende vrae antwoord:

Aan die bruidegom:

Verklaar jy, NN, dat sover jy weet daar regtens geen beletsel is nie teen jou voorgenome huwelik met NN hier teenwoordig, en dat jy almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat jy NN tot jou wettige vrou neem?

Bruidegom antwoord:

Ja.

Aan die bruid:

Verklaar jy, NN, dat sover jy weet daar regtens geen beletsel is nie teen jou voorgenome huwelik met NN hier teenwoordig, en dat jy almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat jy NN tot jou wettige man neem?

Bruid antwoord:

Ja.

Liturg:

Gee mekaar die regterhand (die ringe word nie hier aangesteek nie).

Broers en susters, ek verklaar dat NN en NN, albei hier teenwoordig, regtens getroud is.

Hou mekaar se hande vas as simbool van wedersydse trou terwyl julle nou die huweliksbelofte aflê.

NN, belowe u voor God en die teenwoordige getuies dat u NN, in gehoorsaamheid aan God sal liefhê, beskerm, versorg en bystaan? Belowe u om haar geborgenheid te bied deur getrou aan haar te wees; heilig met haar te lewe en haar geestelik te versorg totdat die dood u skei? Wat is hierop u antwoord?

Bruidegom antwoord:

Ja.

NN, belowe u voor God en die teenwoordige getuies dat u NN, in gehoorsaamheid aan God sal liefhê, beskerm, versorg en bystaan? Belowe u om hom geborgenheid te bied deur getrou aan hom te wees; heilig met hom te lewe en hom geestelik te versorg totdat die dood u skei? Wat is hierop u antwoord?

Bruid antwoord:

Ja.

2de moontlikheid: Indien die egpaar besluit om die bewoording self op te sê/lees moet dit vooraf op skrif aan hulle verskaf word.

NN (man) sê:

Ek, NN, belowe voor God en die teenwoordige getuies dat ek jou NN in gehoorsaamheid aan God sal liefhê, beskerm, versorg en bystaan. Ek beloof om jou geborgenheid te bied deur getrou aan jou te wees; heilig met jou te lewe en geestelik te versorg, totdat die dood ons skei.

NN (vrou) sê:

Ek, NN, belowe voor God en die teenwoordige getuies dat ek jou NN in gehoorsaamheid aan God sal liefhê, beskerm, versorg en bystaan. Ek beloof om jou geborgenheid te bied deur getrou aan jou te wees: heilig met jou te lewe en geestelik te versorg, totdat die dood ons skei.

Liturg:

Mag God wat U tot hierdie huwelik geroep en gelei het, u saambind, elke dag bewaar en met liefde omvou. Mag God u seën al die dae van u lewe. 
Amen

Formuliergebed, vrye gebed en/of seënbede/liedere:

Genadige en barmhartige God, Vader, Seun en Heilige Gees. 
Ons loof U vir die voorreg dat gelowiges in u teenwoordigheid aan mekaar trou kan beloof. 
Dankie dat U, die Skepper en Onderhouer van alles wat bestaan, man en vrou by mekaar bring. 
Ons dank U dat ons die getuies mag wees van die eerste oomblikke van ‘n nuwe huwelik. 
Ons bid dat U aan hulle geloof en deursettingsvermoë sal gee – geloof om elke dag in verhouding met U te lewe en deursettingsvermoë om ten spyte van wat ook al gebeur, aan U en mekaar verbind te bly. 
Skenk hulle die geloof om mekaar lief te hê soos U ons liefhet; om mekaar te vergewe soos U ons vergewe en om mekaar te ondersteun soos U dit wil hê. 
Gee aan hulle die voorreg dat u bedoeling met die huwelik vir hulle waar sal word. 
Maak dit vir hulle moontlik om ook hulle huislike lewe in gehoorsaamheid aan U te orden, sodat hierdie huwelik vir hulle, hulle ouers, hulle vriende en die kerk tot vreugde en seën sal wees. 
Seën steeds alle getroudes. Gee aan alle mense die wysheid om hulle lewens aan U te wy en vervulling te vind in gehoorsame diens aan U. 
Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. 

Amen

Uitspreek van die seën

(Die liturg kan besluit of ringe geruil word voor die vashou van die regterhande, óf na die huweliksbelofte, óf na die uitspreek van die seën.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap