Matteus 5: 1-12

Soms lees ons die Bybel en ons is eintlik ’n bietjie onseker oor presies wat die Here van ons verwag. Ander kere voel dit of daar ’n groot gaping is tussen dit wat ons in die Bybel lees en hoe ons alledaagse lewens lyk. Kom ons kyk vandag na nog ’n praktiese voorbeeld van hoe Jesus se onderrig ons kan help.

In vers 8 lees ons dat hulle wat rein van hart is die Here sal sien. Jesus verwys hier na Psalm 24. Die psalmdigter sê dat jy eers rein moet wees voordat jy in God se teenwoordigheid mag kom. Maak eers jou saak met God en met jou medemens reg, dan sal jou hart rein wees.

Ek en my vriend verskil dalk oor iets. Hy is sommer ongeskik met my. Ek wil hom terugkry en sê iets snedig vir hom, dan reageer hy met ’n sarkastiese opmerking, daarna kry ek weer my hou in. So gaan dit aan en aan, en word daardie siklus gevoed. Kom ons noem dit ’n afwaartse spiraal. Jesus vra dat ons daarbo moet uitstyg. In dit wat ons doen, moet ons eerder probeer om daardie siklus te breek deur anders en beter op te tree. Ons weet mos daar is ’n spasie tussen die gebeure en hoe ek daarop reageer. Dis in daardie sekonde waar ek die mag het om te besluit wat ek eintlik wil hê. Al sien ek dan rooi en wil ek eintlik in woede reageer, besluit ek om anders op te tree. Ek wil hê my hart moet rein wees voor die Here. Ek wil eerder die lig laat skyn en ’n seën vir my medemens wees as wat ek rusies en onenigheid en onvrede net laat aangaan en aangaan. Omdat ek besluit het om anders op te tree, kan ek die Here met ’n oop gemoed dien.

Gebed

Jesus, maak vandag my hart rein! Help my om so op te tree dat ek sal uitstyg bo ’n afwaartse spiraal. Amen.

Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust