Openbaring 21: 1-7

Kyk, Ek maak alles nuut! (Op 21: 5).

Te midde van ’n wêreld wat gebroke is, roep God ’n radikale hoop uit: Kyk, Ek maak alles nuut! Hierdie is nie ’n belofte van ’n geringe opknapping nie, maar van ’n totale herskepping. God se voleinding sal nie net ’n herstel van die oue wees nie, maar die totstandkoming van iets heeltemal nuuts – ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Hierdie belofte spreek van ’n plek waar daar geen trane, geen dood, geen rou, geen gehuil of pyn meer sal wees nie (Op 21:4). Dit is ’n visie van volmaakte vrede. Dit is die uiteindelike herstel van God se heerskappy en die vervulling van sy oorspronklike plan vir die mensdom en die skepping.

Die verwagting van hierdie nuwe skepping gee ons die moed om vol te hou in die huidige stryd. Dit herinner ons daaraan dat die lyding wat ons nou ervaar, tydelik is. Dit is ’n aansporing om nie aan die verganklike dinge van hierdie wêreld vas te klou nie, maar om ons hart te rig op die ewige werklikheid wat God vir ons voorberei. Dit is ’n hoop wat ons in staat stel om met vreugde te dien, wetende dat ons werk in die Here nie tevergeefs is nie.

Gesang 602 herinner ons ook:

“Kyk, Ek maak alles nuut”, sê God.

“Laat Hom wat dors het kom.

En hy sal vind hy is my kind;

Ek is ’n God vir hom!”

Die nuwe stad Jerusalem,

Daal uit die Hemel neer,

Skoon soos ’n bruid in heerlikheid –

Geliefde van die Heer.

Oorwinnaars sal ons alles erf

En drink uit die fontein

Van lewenswater, heerlik, rein

En God sal oor ons skyn

Mag die visie van ’n nuwe aarde en ’n nuwe hemel jou inspireer en jou hoop vernuwe.

Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank