Matteus 14: 22-29
Elkeen van ons het ’n gemaksone in ons lewe. In hierdie gemaksone weet ons wat om te verwag en hoe om op te tree. In hierdie gemaksone is ons veilig en ons voel welkom en ons is tuis. Ons weet hoe om te wees in hierdie gemaksone. Dit is die huis, die kantoor, die klaskamer, die sportveld en familiesamekomste. Dit is die kerk en die gemeente. Dit is die Bybel in Afrikaans en die Liedboek van die kerk. Dit is gemaklik.
As dit van ons afgehang het, sou ons vir so lank as moontlik in ons gemaksone gebly het. As dit van ons afgehang het, sou ons nooit uit ons gemaksone beweeg het nie. Niemand van ons wil tog doelbewus wees waar ons ongemaklik en onwelkom en ontuis voel nie.
Ons hou van die gemak. Dit is juis in sulke gemaksone waarin die dissipels hulself bevind het in die teks wat ons vandag saam lees. Die meeste van hulle was vissermanne voordat hulle dissipels was. Hulle ken die water, hulle is gemaklik in die boot, hulle weet hoe om daar buite op die water te wees. In daardie bootjie van hulle, in daardie gemaksone, is hulle veilig, warm en droog.
Maar in die teks lees ons dat Jesus nie daar saam met hulle in hul gemaksone is nie. Jesus is nie altyd net daar waar dit warm, veilig en droog is nie. Jesus is daar buite op die water.
Die Here nooi vir Petrus uit om op die rowwe en gevaarlike waters na die Hom toe te loop. Petrus gooi sy lyf oor die kant van die bootjie en hy sit sy voete stewig op die water neer, reguit op pad na die Here toe. Reguit op pad na die plek waar hy beslis nat gaan word, reguit op pad na die plek waar hy sonder twyfel in gevaar en koud en ongemaklik gaan wees. Maar geliefdes, dit is soms juis daar waar dit ongemaklik en koud is, waar die Here is.
Ds André Steinmann, Piet Potgieter