Jakobus 1: 1-15
Alle mense, so ook gelowiges, gaan beproewings in hul lewe teëkom, maar gelowiges hanteer daardie beproewings op besondere wyses. Eerstens moet gelowiges bly wees oor beproewings. Jakobus sê dat ons nie moet toelaat dat ’n situasie jou onderkry nie, want al voel dit of hierdie situasie beheer het oor jou, kan dit jou nie heeltemal beheer nie. Jesus Christus het vir gelowiges kom wys dat ’n mens anders kan reageer of dink oor ’n situasie. Op daardie manier word die greep wat so situasie op jou het, gebreek. Dink maar aan hoe Jesus die kruisgebeure hanteer het. Al het die Fariseërs en die Romeine gedink dat hulle mag oor Jesus het, kon hulle Hom nie keer om sy vyande te vergewe nie. Met sy sterwe aan die kruis het Hy die kruis, wat altyd ’n simbool van verraad, vernedering en dood was, kom verander na ’n simbool van lewe! Wanneer ons deur moeilike omstandighede gaan, kan ons ons oë oopmaak om raak te sien hoe Christus ons daardeur dra.
Tweedens volhard gelowiges end uit. Al is dit moeilik, is dit ’n belangrike kenmerk wat ons by Christus erf. Christus het end uit volgehou: Hy was gereeld uitgedaag deur ander Skrifgeleerdes; Hy is deur gewone mense beskinder en sleggesê; Hy is verraai deur ’n volgeling; Hy is fisies en emosioneel gemartel en nog steeds het Hy tot die dood toe volgehou.
Die derde manier om as gelowige beproewings te hanteer, is om te bid vir wysheid in alle omstandighede. Dit is beter om vir die Here te vra vir wysheid as wat ons met ons eie wysheid probeer om moeilike omstandighede aan te pak.
En die vierde manier om beproewinge te hanteer, is om te vertrou dat die Here jou lei. Hoe meer ons die wil van God deur die Bybel leer ken, hoe makliker sal ons kan onderskei tussen iets wat ons self wil laat gebeur en wat God wil laat gebeur. Geloof is mos kennis van God en vertroue op God.
Daarom, sê Jakobus, is beproewings ’n geleentheid om in die geloof te groei.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp