Johannes 5: 1-9
Die Franse filosoof, Simone Weil skryf dat aandag die skaarste, maar die suiwerste, vorm van barmhartigheid is. Sy noem dat mense wat deur moeilike tye in hul lewe gaan – mense wat een of ander vorm van materiële nood ervaar – eintlik iets baie meer indringend verlang as die materiële hulp wat ons vir hulle kan aanbied. Sy is van mening dat mense allereers na aandag verlang, lank voordat hulle enige materiële middele van ons af nodig het.
Ek is herinner aan hierdie gedagte van Simone Weil in Johannes 5. ’n Man wat vir 38 jaar al siek is, wag sy beurt geduldig af om in die bad van Betesda te klim, maar elke keer druk iemand voor hom in. Die man is bedruk, maar probeer elke dag weer.
Jesus reageer op ’n verstommende manier. Jesus tel hom nie sommer op en sit hom in die bad nie. Jesus gaan nie dadelik oor tot die genesing van die man se siekte nie. Jesus vra hom eers: Wil jy gesond word? Is dit nie ’n vreemde vraag nie? Natuurlik wil die man gesond word anders sou hy nie dag na dag by die bad van Betesda gaan staan het nie. Hoekom vra Jesus hierdie vraag?
Jesus is eintlik besig om hier uit te voer, wat Simone Weil gesê het die skaarste, suiwerste vorm van barmhartigheid is. Jesus begin die man se pad na heling met aandag. Jesus kon hierdie man gesien het as ’n probleem om op te los; ’n siekte wat genees moet word. As Jesus dit gedoen het, het hy nie die man se menswees raakgesien nie.
Dis egter nie wat Jesus hier doen nie. Jesus sien die mens eerste raak, en nie sy siekte, toestand of sindroom nie. Dit is wat Simone Weil bedoel het met aandag. En dis hoekom Jesus nie die man dadelik genees nie, maar met hom praat en vra: Wil jy genees word?
Mag ons op die pad agter Jesus aan leer om die mens agter die probleem raak te sien. Mag ons kyk met aandag.
Ds Steve Oxton, Wapadrant