Genesis 1: 1-2 en 4
As beeld van God moet ons doen en late in die skepping iets van God as Skepper van die heelal uitdra. Hoe ons met die skepping omgaan, hoe ons met mekaar omgaan. Maar net so belangrik is hoe ons met onsself omgaan in die lewe. Die laaste skeppingsdaad van God in Genesis 1-2: 4 spreek hierdie aan. Daar word gewoonlik aangeneem dat God op die sese dag klaar was met die skepping en op die sewende dag gerus het. Maar op die sewende dag is God steeds besig met ’n skeppingsdaad. Die verskil is dat hierdie skeppingsdaad nie een in ruimte is nie, maar eerder in tyd. Op dag sewe skep God die dag self. Anders as die ander dae word die dag se skeppingswerk nie goed genoem nie, maar God seën die dag en verklaar dit heilig (Gen 2: 3). Hierdie teks is nie geskryf om ’n nuwe vakansiedag aan Israel bekend te stel nie. Teen die tyd wat hierdie geskryf word, neem Israel reeds vir jare deel aan ’n gereelde heilige rusdag. Wanneer hulle egter lees dat hierdie rusdag ook deel is van God se skeppingswerk besef hulle dat hierdie ook ’n wyse is om die beeldskap te reflekteer na die wêreld. Ons leef in ’n wêreld waar ons 24/7 beskikbaar moet wees. Dit is ’n gonsende wêreld waar oomblikke van stilte en rustigheid seldsaam voorkom. Wanneer ons wel sulke oomblikke vir onsself neem gaan dit gepaard met ongemaklike gevoelens. Ons almal ken die uitdrukking: ledigheid is die duiwel se kopkussing. Tog, as ons Genesis 1: 1-2 tot 4 ernstig neem, bely dat God is Skepper en ons is beeld van God, dan is ons dit aan onsself verskuldig om sulke rusoomblikke te neem. Om ook so te sorg dat onsself kan floreer in God se skepping.
God, laat ons vandag ook ’n oomblik neem vir onsself waarin ons kan rus en ook die lewe in oorvloed kan ervaar.
Dr Robert J van Niekerk, Universiteit van Pretoria