Matteus 3: 1-17

Johannes praat nie oor homself nie, maar verkondig vir Christus. Hy spel ook uit dat Jesus se koms sal lei tot verlossing en die heelmaak van mense, maar ook tot ’n oordeel oor baie. Die inhoud van sy prediking was bekering, die aanvaarding van sy boodskap van die koninkryk, van Christus as Here, met die gepaardgaande berou en vernuwing.

Die bediening van Johannes is swaar gelaai met dringendheid, want die heerskappy van God is op hande.

Die pad moet reguit gemaak word, die Koning kom. Die oproep tot bekering is presies die teenoorgestelde van wat die Fariseërs en Sadduseërs oor God en hulleself gedink het. Hulle het na Johannes kom kyk en luister, maar was nuuskierig en veroordelend.

As godsdienstige leiers was hulle nie van plan om hulle te bekeer en berou oor hul sondes te hê nie.

Daarom probeer Johannes hulle nogeens van sy boodskap oortuig. Hulle moet verstaan dat God se koningskap ook oordeel oor mense inhou. Die oordeel kom oor mense wat nie God se koningskap erken nie

Godsdienstige mense kan hulle op afkoms of godsdienstige praktyke beroem. Dit, sê Johannes, gaan mense nie help om aan die dreigende oordeel van God te ontkom nie. Redding lê daarin om na God te draai en vrugte te dra wat by die bekering pas .

Jesus se roeping is om deur sy dood en opstanding dit moontlik te maak dat ons ook geliefdes van God genoem kan word en só kan leef.

Waarom bemoei God Hom met ons? Om ons deel te maak van God se missie in die wêreld.

Die Seun is gestuur om mense in te trek in ’n liefdesgemeenskap. Die Seun het gesê: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook… Ons ontvang die liefde en genesing, sodat ons liefde en genesing het om uit te deel. Ons word ingeskakel by die verskyning van God se genadige verlossing in Jesus Christus. As verlostes word ons ook draers en uitdelers van genade.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth