Lukas 2: 36-40
Anna is vir verskeie redes ’n interessante karakter in die Bybel. Sy was ongeveer 84 jaar oud in ’n periode van geskiedenis toe die gemiddelde lewensverwagting maar omtrent 40 of 45 jaar was. Die teks vertel vir ons sy was sewe jaar getroud voordat haar man gesterf het. Daarna het sy die res van haar lewe, moontlik ongeveer 60 jaar, in die tempel gewoon en God gedien deur te vas en te bid. Die teks sê sy het nie van die tempel af weggegaan nie. Anna was ook die enigste vroue profetes waarvan ons in die Nuwe Testament lees.
Hoewel ons slegs in twee of drie verse in die Bybel van Anna lees, is daar baie wat ons van haar kan leer. Dis duidelik dat gebed die belangrikste element van haar lewe was. Baie van ons bid wanneer ons ’n tydjie kan afknyp of wanneer ons werklik in die moeilikheid is. Maar dis nie hoe Anna die lewe benader het nie. Anna het gebed intensioneel deel van haar lewe gemaak en haar aksies het hierdie prioriteit gereflekteer.
Henry Nouwen skryf: Although it is important and even indispensable for our spiritual lives to set apart time for God and God alone, our prayer can only become unceasing when all our thoughts – beautiful or ugly, high or low – can be thought in the presence of the One who dwells in us and surrounds us. By doing this, our unceasing thinking is converted into unceasing prayer, moving us from a self-centered monologue to a God-centered dialogue. The main question is not so much what we think, but to whom we present our thoughts.
Daar word dikwels geskryf Martin Luther se teologie is ’n teologie van gebed. Mag gebed deel word van hoe jy lewe.
Gesang 271: 2 (gedeeltelik):
Heilge Jesus, hoor my bede:
Hervorm my hart, my krag, my rede;
maak my al meer u beeld gelyk.
Vorm my wil en ook my wandel,
Dat in my denke, spreke, handel
In alles slegs u beeld sal blyk.
Ds Lydia Miller, Villiers