Openbaring 2: 18-29
Tiatira was ’n klein, ekonomies florerende stad, bekend vir sy handwerkers en gildes. Hierdie gildes het druk op gelowiges geplaas om deel te neem aan feesmaaltye wat afgodsoffers en seksuele losbandigheid ingesluit het. Om nie te deel nie, het beteken jy kon jou werk of status verloor.
In hiérdie konteks word die gemeente deur Christus geprys vir hul liefde, geloof, diensbaarheid en volharding (vers 19). Anders as ander gemeentes, het Tiatira nie laks geraak nie – hulle het meer gedoen as tevore.
Jesus kyk egter dieper. Sy oë, soos vuur, deurgrond die onsigbare en Hy spreek hulle aan: Maar Ek het dit teen julle, dat julle die vrou Isebel laat begaan (Op 2: 20). Hierdie vrou, simbolies van die koningin wat Israel tot afgodery verlei het, het leerstellings versprei wat sonde geregverdig het – en die gemeente het dit toegelaat.
Wanneer ’n gelowige eerlik kyk, besef ons: verdraagsaamheid klink dikwels goed. Dit lyk soos vrede, maar as dit beteken om stil te bly waar Christus roep tot onderskeiding, raak dit gevaarlik. Dikwels swyg ons eerder – by die werk, in verhoudings, op sosiale media – om konflik te vermy.
Die vraag word persoonlik:
Wat is die dinge waaroor ek swyg, al weet ek Christus sou nie geswyg het nie?
Waar het ek begin verdra wat die Woord van God duidelik uitwys?
Hoe kan ek leer om met waarheid én liefde te praat – nie hard en veroordelend nie, maar wel eerlik?
Die doel is om op te bou en lig te bring. Johannes 14: 6 herinner ons dat Christus self die Weg, die Waarheid en die Lewe is. Jesus se uitnodiging bly staan: Ek het haar tyd gegee om te bekeer… (vers 21).
Sy belofte is seker: Aan die oorwinnaars gee Ek gesag… en die môrester (vers 26–28). Die môrester is Christus self – Lig wat nie verdof nie, waarheid wat nie verander nie. Miskien is dit tyd om eerlik te kyk na wat ons verdra en om vas te hou aan wat reg is, totdat Hy kom.
Dr Bernard Prinsloo, Onverwacht