Romeine 8: 12-17
Ek het die mooiste lied gehoor by die talentvolle en bekende Frieda van den Heever. Sy sing:
Abba, my Vader
Hoe verder, Here, nader
My knieë is lam en my voete is seer. Ek is moeg van self probeer
U wat nie blyplek het nie en altyd by my bly. Ek voel nêrens
maar ek weet U’s êrens sterre en stof
laat klink u lof
Abba my, Vader…
Alhoewel ons weet God is nie net ’n Vader nie, is hierdie beeld van ’n Vader, wat ons abba (op die rug dra) besonders.
Ek weet nie of dit is hoe sy dit bedoel het nie. Vandat ek hierdie lied van haar gehoor het, is dit iets waaraan ek dink as ek Romeine 8 lees.
Dat daar iemand in die lewe is wat ons op die rug dra, wanneer ons voete te seer is om te loop.
Dit is die mooiste speel met woorde. Abba as pa en abba my op jou rug. Dit is ook ’n manier van beweeg.
Die Gees maak ons kinders van God. Hy maak ons erfgename saam met Jesus. Van sy lyding ja, maar ook van sy heerlikheid.
Volgens NT Wright is ons nie net van sonde vergeef nie. Hierdie teks maak dit duidelik dat ons in God se familie opgeneem word. Ons kry dieselfde toegang tot God, met dieselfde intimiteit en vrymoedigheid as Jesus.
Dit beteken dat wat daar tussen ons en God is, nie net ’n gevoel is nie, dit is ons identiteit. Ons mag nou in God se huis woon en ons pad saam stap. ’n Pad wat dalk seer en smart mag inhou, ja, maar ook soveel meer.
En in hierdie saamstap is ons nie slawe, nie, ons is nie slawe wat agter ’n meester moet aanloop nie, ons reis is as kinders wat omhels en aangeneem word deur ’n Pa.
Wat ’n voorreg, vreudge en fonds.
Ds Leanie Lemmer, Bellville