2 Korintiërs 3: 12-18
Reeds in 2007 verskyn daar ’n boek onder redakteurskap van Stephan Joubert met die titel: Die perfekte storm. Die boek bespreek al die omstandighede wat bydra tot die perfekte storm wat besig is om gelowiges afsonderlik, en die kerk as geheel te tref. In 2024 volg Tom Rainer dit op met ’n artikel, waarin hy aandui dat die storm nou tsunami-afmetings aangeneem het. Hierdie week gesels ons vanuit verskillende hoeke oor die storms in ons geloofslewe en in die bestaan van die kerk. Hierdie tsunami het die potensiaal om ons geloofslewe en ons kerkwees te verwoes.
Hoe nou gemaak as die Here die storm nie dadelik wil stilmaak nie? Ons het die roeping om ten spyte van die tsunami rondom ons, soos ’n Paulus steeds gelowig vorentoe te beur. Ons word dus opgeroep om inkarnerend te leef. Die woord inkarneer verwys na die handeling om iets in ’n fisieke vorm te beliggaam of voor te stel. Dit kan ook beteken om ’n spesifieke idee, kwaliteit of konsep op ’n tasbare manier te laat manifesteer of uit te druk. Paulus verduidelik dit aan die Korintiërs deur gebruik te maak van ’n beeld, naamlik dié van ’n spieël.
In die storms van die lewe behoort ons gedagtes, woorde en dade iets van God se heerlikheid te weerkaats. Dit is ons roeping om ook in die storms iets van Jesus se liefde, omgee en vergifnis aan die mense rondom ons te weerkaats. Dit is vir ’n gebroke sondaarmens bitter moeilik, bykans onmoontlik. Tog is dit die Gees wat hierdie dowwe beeld van ons poging in ’n helder beeld kan verander. Die Afrikaanse treffer Spieëltjie sê ook so: Spieëltjie, spieëltjie sê vir my, hoe sien die ander mense my? Sien hulle ook die beeld wat ek in die oggend kry?
Ons sluit af met ’n gedig van Annie Johnson Flint:
Christ has no hands but our hands
To do his work today;
He has no feet but our feet
To lead men in His way;
He has no tongues but our tongues
To tell men how He died;
He has no help but our help
To bring them to His side.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding