Romeine 12: 9-16

In die gedeelte lees ons van ’n paar kort, maar kragtige voorskrifte wat Paulus vir ons gee om die opofferende liefde van Christus met dade in ons geloofsgemeenskappe sigbaar te maak. Let op hoe elkeen van hierdie voorbeelde wat genoem word Christus se eie lewe hier op aarde voorstel en opsom.

Ek wil vandag stilstaan by Romeine 12: 15: Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur (AFR2020).

Ons is mal daaroor om elke sukses, elke mylpaal en elke groot gebeurtenis in ons lewens te vier. Ons vier troues en verjaarsdagpartytjies, braai lekker saam wanneer daar ’n nuwe huis gekoop is, daar word vonkelwyn of druiwesap gekoop om die nuwe werk te vier.

Ons kry dit ook dikwels dat ons eerder kies om pyn te vermy. Mense hou daarvan om saam te lag en saam te kuier, maar ons bly dikwels stil – ons onttrek wanneer iemand ly. In Paulus se brief sien ons dat dit anders behoort te lyk in ’n gemeenskap van gelowiges.

Paulus sê nie net wees bly saam met die wat bly is nie, maar hy noem ook dat ons moet treur saam met die wat treur. Om saam met iemand te huil beteken om iemand se pyn ernstig op te neem. Dit vra nie vir kitsoplossings, of goedkoop sêgoed nie. Dit vra ’n hart wat teenoor ander oop is, selfs al maak ons onsself kwesbaar in die proses.

In ’n geloofsgemeenskap is ons almal deel van mekaar. Ons deel mekaar se swaarkry, omdat Christus self ons swaarkry gedra het. En wanneer ons saam huil, word Jesus se liefde sigbaar in die wêreld.

Om saam met iemand te huil beteken nie dat jy altyd die regte woorde moet hê nie. Soms beteken dit om net stil langs iemand te sit en saam met iemand voor die Here te huil. So bou ons ’n gemeenskap van egte liefde, soos wat Jesus ons kom leer het.

Ds Drian Cockeran, Bronkhorstspruit