Lukas 15: 1-7
Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet self saam met hulle (Luk 15: 1-2).
Jesus vertel dan ’n gelykenis van ’n man wat honderd skape gehad het. Een van die skape raak weg. Die herder van die skape los dan al die ander skape in die veld en gaan soek die een wat verlore geraak het. Wanneer die herder die skaap kry, is hy baie bly. Hy tel hy hom op sy skouers en dra hom terug.
Wanneer hy dan by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege-en-negentig regverdiges wat nie bekering nodig het nie (Luk 15: 6-7).
Dit dui die besorgdheid aan van die Here vir ons as mense wat op Hom vertrou. Die Here dra ons.
Jesus het gesê dat Hy die goeie herder is. My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een (Joh 10: 27-30).
Daarom het Jesus saam met mense geëet. Die beteken dat Jesus hulle volledig aanvaar het en met hulle geassosieer het. God aanvaar mense vir wie hulle is. Sy redding is vir elkeen.
Mag ons na die Here luister. Wanneer ons wag op sy stem, sal ons Hom hoor. Dit is ons blydskap.
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus