Haggai 1: 12 tot 2: 9

Teen die Bisitun-rotswand lys Darius I die name van die rebelle wat hy onder die duim moes kry in Akkadies, Ou-Persies en Elamities. Dekades voor Darius se veldtogte het Kroesus van Lidië Kores II die stryd aangesê en na ’n onbesliste uitslag, trek Kroesus vir die winter terug na Sardis. Terwyl die Lidiese magte oorwinter, ruk die Perse op en Herodotus vertel dat die Perse se kamele die Lidiese perde so verbouereer dat Kroesus die knieg moes buig.

Hierna volg Babilon en na Kores se dood neem Kambyses (r 530-522vC) die swaard op. Hy ruk teen die Egiptenare onder Farao Amasis op, maar sterf op pad na Sirië. Tóé knoop Darius die stryd in Assirië, Armenië en die ooste van Iran aan.

Terwyl konings slagordes opstel, preek Haggai in September/Oktober van 520 vC. Die entoesiasme vir die herbou van die tempel het verflou en ’n volgende struikelblok doem op: die bouwerk lyk onindrukwekkend, onwaardig in vergelyking met Salomo se tempel.

Weer tree God met sy Woord in. Al lyk die bouwerk klein, Hy het ’n doel daarmee. Dit sal tot seën wees vir alle volke, dit sal daartoe lei dat almal God erken.

In God se hande het die oplossing vir die onmiddellike gevolge vir die universele. Haggai merk iets hiervan in die gewoel van volke en nasies – ondanks dit sal die Here toesien dat Hy sy doel bereik.

So bewaar die Here sy kerk deur die geskiedenis tot met Jesus Christus se koms. Hierdie bewaring sluit ook die roeping in. Die gemeente van God sien en weet wat God wil doen, naamlik die versoening met en verlossing van die wêreld deur Jesus. Dit is eie aan die kerk en daarom neem die kerk ’n unieke gestalte aan.

Die kerk moet egter waak dat dit nie te inklusief word nie. Deur haar belydenis en dogma, die liturgie en sakrament, in die gemeenskap van gelowiges en kerkordelike gang, die missionaat en diakonie werk God deur die eeue met die kerk; dwarsdeur die doen en late van die mens.

Dr Christo Pretorius, Pretoria / Hervormde Teologiese Kollege