Handelinge 2: 14-21; Filippense 2: 5 en 15-16

Al ooit gewonder wat op dees aarde maak jy hier? Wonder jy soms of jy jou skeppingsdoel verstaan en of jy enigsins naby daaraan kom om dit uit te leef? Dalk is die antwoord makliker as wat ons dink, maar die uitdagings kom by die uitleef daarvan.

Petrus en die ander apostels staan onder leiding van die Heilige Gees op en hulle gee ’n verduideliking te midde van die chaos en verwarring wat ontstaan het. En dit is waar ons ook moet begin, onder leiding van die Heilige Gees. Ons moet weet dat ons taak, ons roeping en ons gestuurdheid geskied onder die leiding van die Heilige Gees.

In ons menswees moet ons soveel keer belangrike besluite neem oor ons lewe, soos die beroep wat ons wil beoefen of die keuse van ’n huweliksmaat of selfs die plek waar ons moet gaan bly of die keuse van ’n skool vir ons kinders. Hierdie besluite is nie altyd eenvoudig nie en word soms nog meer gekompliseerd deur omstandighede wat buite ons beheer is. Ons weet egter ook dat dit belangrik is om God in hierdie besluite te ken en om toe te laat dat Hy ons deur die werking van sy Gees lei.

Wanneer dit kom by ons roeping om as kinders van God op te tree kan ons met groot dankbaarheid weet dat God hierdie taak vir ons deur sy Woord aan ons bekend maak. Met die uitstorting van die Heilige Gees word die taak bevestig om as profete op te tree. Dit vra van ons om die Woord van die Here te ontvang en as boodskappers van God wat gelei en geïnspireer word deur die Heilige Gees die Woord uit te dra, dit te verkondig en uit te leef en om te volg in die voetspore van Jesus Christus. Jesus het as Messias God se belofte kom vervul deur as Woord van God mens te word.

Dit vra van ons om met dieselfde gesindheid wat daar in Jesus was hierdie roeping op te neem en as ligdraers op te tree deur die woord van die lewe uit te dra. God se verwagting van ons het Hy reeds aan ons bekend gemaak en daarom hoef ons nie te twyfel oor ons skeppingsdoel of ons roeping in Sy koninkryk nie. Of jy dit doen in ’n wit jas as ’n mediese dokter of in ’n oorpak as ’n ambagsman, as introvert of ekstrovert, as onderwyser of as student, nou weet jy wat dit van jou vra.

Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal