Klein stukkies wol wat uit ongeveer 1000 vC dateer, is in ’n ou kopermyn in die Timnavallei naby Eilat in die suide van die Aravawoestyn ontdek. Dié stukkies wol dateer dus uit die tyd waarin koning Dawid van die Bybel geleef het en is derhalwe ’n besondere groot vonds.

Dié wol het voorheen deel van iemand se kledingstuk gevorm en is met ’n pers kleurstof gekleur. Nie sommer enigiemand kon perskleurige klere bekostig nie. Sulke klere was baie duur, wat beteken dat nét mense van ’n besondere hoë aansien dit kon bekostig. Normaalweg het net konings en hoëpriesters wat in die tempel diens gedoen het klere met perskleurige weefwerk daarin gedra. (Die uitbeelding hierby van Dawid se salwing as koning deur die profeet Samuel kom van die Dura Europos Sinagoge in Sirië en dateer uit die derde eeu na Christus. Dawid word met ’n pers kleed aan uitgebeeld. © Marsyas, Dura Europos)

Die pers kleurstof waarmee die wol gekleur is, is verkry van die purperslakke wat in die Middellandse See voorkom. Fenisiese handelaars het dit ten duurste in die binneland aan die rykes gaan verkoop. 

Gekleurde woldrade wat met pers kleursel gekleur is en uit ongeveer 1000 vC dateer, is in die kopermyn in die Timnavallei gevind. © Israel Antiquities Authority

Die ontdekking van dié perskleurige wol in ’n plek soos die kopermyn in Timna was eintlik buitengewoon. Dit sou beteken dat die materiaal tot diep in die woestyn en honderde kilometer van die see af vervoer moes gewees het. In die nomadiese kultuur van Edom, Moab, Amon en ander plaaslike stadstaatkoninkryke moes dit ’n groot uitdaging gewees het en baie moeite geverg het om sulke duur materiaal tot daar te kry.

Die ontdekking van hierdie stukkies van ’n kledingstuk werp groot lig op die tipe kledingstukke wat gedurende die elfde tot tiende eeu voor Christus gedra is. Soveel te meer die feit dat spore van koninklike of hoëpriesterlike klere in ’n kopermyn in die droë Aravawoestyn gevind is. Die vraag ontstaan dus hóé daardie klere daar beland het, en wie die persone is wat dit gedra het.

Die ware pers kleurmiddel heet in Hebreeus argaman en word 38 keer in die Bybel genoem. Argaman is gebruik om die voorhangsel van die Allerheiligste (Eks 26: 31) en die ampsdrag van die hoëpriester (Eks 28: 5-33) te maak. Die Midianitiese konings se mantels is ook van argaman gemaak (Rig 8: 26).

Die pers argaman is dikwels ook simbolies saam met die blou tekhelet gebruik in die tsitsit (toutjies wat die Jode op die vier hoeke van hul heupe dra) en die gebedsdoek wat deel van die Jode se religieuse drag uitgemaak het.

Die rol van pers materiaal

Die Fenisiërs, in besonder die mense van Tirus, was volgens navorsers die eerstes wat die waarde van die pers kleursel van die murex-slak (purperslak) ontdek het. Dit is waarom die kleurstof ook soms Tiriese pers, of in analogie met die Fenisiërs, phoinix (rooipers), genoem is.

Dié pers kleursel het, van ál die moondhede in die wêreld, die beste in Rome verkoop. Rooi en pers het ’n simbool van aristokrasie geword. Die senators, suksesvolle generaals en keisers se togas is van rooi en pers materiaal gemaak. Tot vandag toe het rooi en pers steeds ’n sterk simboliese betekenis in die Christelike godsdiens. In die Rooms-Katolieke Kerk dra die biskoppe en kardinale steeds togas met verskillende skakerings van pers en rooi materiaal.

Die kopersmelters

Hoe hierdie koninklike pers wol in die tiende eeu voor Christus in die kopermyn in Timna beland het, is steeds ’n raaisel. Die ontdekking van die perskleurige wol het wel één opvatting oor wie in die kopermyn gewerk het, reggestel. In die verlede is altyd aanvaar dat mense in gevangenskap in die myn gewerk het.

Nuwe navorsing het met die ontdekking van hierdie wol nou bevind dat die kopersmelters  vakmanne met hoë aansien was. Dit beteken dat óf die eienaars van die myn in die myn gekom het, óf waarskynliker dat die kopersmelters as deel van die elite beskou was en dat húlle met pers drag in die myn gewerk het. Die hipotese dat die wol eerder van die klere van die kopersmelters kon kom as van ’n koning van die Edomiete, vind meer byval omdat die wol by ’n eetplek van die kopersmelters gekry is.

Die geweldige droë klimaat in die Aravawoestyn het daartoe bygedra dat die organiese materiaal van die wol goed behoue kon bly.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link