Jesaja 43: 1 (AFR83) sê vir ons: Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Is dit nie mooi nie? Die laaste sinnetjie is veral besonders: Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Shakespeare het in Romeo and Juliet gevra: What’s in a name? Wat sê ’n naam? Wat ís ’n naam?

’n Paar jaar gelede was die tema van die NHSV se streekbyeenkomste: Blom waar jy geplant is. Dit is tog baie eenvoudig: doen jou bes waar jy ook al jou lewe lei. Nie waar nie? Ja, dis waar, maar dit strek veel wyer.

Die feit dat jy in ’n sekere gesin gebore word en dus ’n sekere naam van jou ouers ontvang, maak nie saak of dit familiename of ’n gekose ander naam is nie, beteken dat jy daar behoort. Jou ouers het jou kenmerkendste eienskap – jou naam – persoonlik vir jou uitgekies. Jou naam en van beteken dat jy deel van hierdie betrokke gesin is.

Ons almal weet dit beteken nie noodwendig dat ’n kind in ’n bepaalde gesin gelukkig en tevrede is om daardie gesin syne of hare te noem nie. Kinders het nie ’n keuse waar hulle gebore word nie – hulle moet aanpas by wat hulle kry. Al keuse wat kinders het, is wat hulle van en met die omstandighede gaan maak. Gaan hulle blom waar hulle geplant is, of wegkwyn onder die fel son?

Jesaja 43 sê vir my dat God elkeen van ons ken – onthou, Hy het ons geskape en Hy, as die Saaier, het ons elkeen op ’n unieke plek geplant.

Die mens is egter die een wese wat geskape is met die vermoë om te kan onderskei tussen reg en verkeerd. Om besluite te kan neem. Om te kan kies wat ons onder sekere omstandighede wil doen.

Ons lewe nie meer in die lekkerste wêreld nie. Kyk maar net na die wêreldekonomie, die verval van waardes, die toename in sedeloosheid en die aanslag op Christene. Ons kan ’n baie lang lys maak. Dit is nie meer maklik om vandag te blom nie. Dit voel deesdae ook nie altyd vir ons meer moontlik om te blom nie.

Nou wat maak ons dan? Wat leer ons vir ons kinders? Watter voorbeeld stel ons vir ons kinders? Maak dit beter net daar waar jy is! Dit is nie altyd nodig om vreeslike dinge te doen en om wêrelde te verander nie. As jy ’n positiewe verskil in één mens se lewe maak, het jy van die wêreld ’n beter plek gemaak.

Maar – begin by jouself. Jy kan nie ’n verskil in iemand anders se lewe maak as jy in jou hart en eie lewe sielsongelukkig is nie. Onthou altyd Jesus Christus se woorde: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Met ander woorde om te kan blom moet ek by myself begin.

Ja, ek het nie die materiële middele wat my bure het nie, en ja, my kinders doen nie so goed op skool soos hul maats nie, en ja, my dogter is nie joolprinses op universiteit nie, ensovoorts… Maar: ek het ’n huis, en genoeg kos en klere. ’n Motor om te ry waar ek wil wees. Ek is gesond en kan elke maand vir my salaris werk. Ek kan my kind se skoolgeld en universiteitsgeld betaal. Ek het baie om voor dankbaar te wees… Miskien nie soveel soos die ander mense wat ek ken nie, maar genoeg.

Hoe kry ek reg om dankbaar te wees vir wat ek het?

In Psalm 4: 3 van die Liedboek van die Kerk sing ons:

Weet tog: Vir een in die besonder

sal Hy sy weldade verrig.

Hy het my daarvoor afgesonder,

vir my bewerk die Heer ’n wonder.

My swaarkry sal Hy weer verlig

as ek my tot Hom rig.

In 2 Korintiërs 4: 7 (AFR83) staan daar: Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

Gelukkig hoef ons nie op ons eie krag staat te maak om te blom waar ons geplant is nie, ons moet nét na God draai vir hulp. Elke tipe blom het sy eie habitat waar hy groei. Jy kan die welwitschia net in die woestyn kry. Hierdie blom gaan egter nie in die trope oorleef nie. ’n Roos gaan beslis nie in die woestyn floreer nie. Party blomplante kan ons eet, ander is uiters giftig vir die mens.

Net so het elke mens sy en haar eie unieke eienskappe. Jy kan dalk goed kosmaak, of naaldwerk doen, karre kan regmaak, bemoedig, preek of luister, of wat ook al – God het daardie talent vir jóú gegee om te gebruik tot uitbreiding van sy koninkryk hier op aarde. Gebruik dit om ’n verskil te maak in jou en iemand anders se lewe.

Blom waar jy geplant is, want, sê die Here: Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne