Ons leef in uitdagende tye, en die uitdagings dra dikwels by tot stres by die huis en by die werk. Tradisioneel is daar nog altyd verwag dat ’n vrou na die huis en die huisgesin moet omsien, sodat die man kan fokus op sy werk.

Met tyd het sekere rolverwagtinge wel verander, maar ander nie. Man en vrou wat albei in ’n voltydse beroep staan, het grootliks die norm geword. Die vrou het steeds die groot rol om na haar huishouding en huisgesin om te sien, maar daarby kom ook haar beroep, wat dikwels voltyds is. Vroue is dikwels ook betrokke by die aktiwiteite van die kerk, skole, in die gemeenskap, liefdadigheid en vele meer. Sy sit dus op talle stoele en moet verantwoordelikheid dra vir elke spreekwoordelike stoel waarop sy sit. ’n Vrou moet steeds die Goddelike opdrag uitleef om haarself en haar liggaam en gees as tempel van God te sien en daarvolgens te versorg en te onderhou. Dit is haar roeping en verantwoordelikheid om ’n vrou na God se hart te wees.

Die NHSV is bewus van verskeie elemente wat ’n invloed op ’n vrou se geestesgesondheid het, en wat ’n impak maak op haar menswees en haar lewe in haar gesin, by die werk, tussen kollegas, familie en vriende, en in die samelewing. Die afname in die emosionele welstand van ons vroue het ook ’n direkte impak op hul geloofslewe. Dit is die werklikheid. Daarom doen ons ’n beroep op elke vrouelidmaat en gemeente om aandag te skenk aan vroue se geestesgesondheid. Dit vra fisiese, emosionele en geestelike bystand. Om na mekaar om te sien soos die Bybel van ons vra.

Die NHSV se leuse is Wees ’n seën. Daarom is ons eerste doelstelling om onderlinge verbondenheid te bewerkstellig, sodat ons as gelowige vroue mekaar se belange psigies, fisies en geestelik op die hart sal dra. Om met ’n hart vol liefde, gemotiveer deur die liefde van God, na mekaar uit te reik, opreg om te gee, om te sien, te help en te ondersteun. Bestaande geleenthede en gebruike in die gemeente kan nuttig hiervoor gebruik word, soos Bybelstudie waar gefokus word op God se wil vir die mens. ’n Bestudering van vroue in die Bybel se omstandighede, karaktereienskappe, optrede en geloof kan van groot waarde en verrykend wees. Daarin word dikwels antwoorde gegee op hedendaagse vrae en krisisse. In elke gemeente is daar nie net ’n predikant beskikbaar nie, maar ook ander lidmate in verwante beroepe wat raad, hulp en leiding kan gee. Dan is daar ook die krag van opregte gebed, persoonlike omgee en betrokkenheid.

Daarom doen ons ’n beroep op elke vrouelidmaat en gemeente om aandag te skenk aan vroue se geestesgesondheid deur na mekaar om te sien as vroue, moeders en susters in die geloof, soos die Bybel – en dus God self – van ons vra.