Aan die einde van 1974 het ek en my beste skoolvriend 1 600 km in drie weke per fiets ten bate van die destydse Vaderland se Terroristeslagofferfonds afgelê. Sedertdien het die fietsrygogga my nooit gelos nie. Vanjaar se Camino-pelgrimstog van meer as 800 km deur Frankryk en Spanje was die hoogtepunt van my fietsrylewe.

Toe het ’n droom ’n nuwe betekenis gekry: die Munga Équipé ten bate van Rata se Ride for a Child. Die ondersteuning van die Kerk en Gemeente Wapadrant was oorweldigend.

Maar op Woensdag 21 Oktober 2026 het ’n fratsongeluk in Pretoria alles verander. Ek het met my fiets in ’n ongemerkte, onbedekte munisipale sloot beland en my skouer gebreek. My Munga-droom het aan skerwe gespat.

Maar my droom mag eindig – ’n weerlose kind se hoop mag nooit eindig nie!

Ek weet nou self hoe dit voel om beseer en hulpeloos langs die pad te lê, sonder iemand wat help. Maar daar is kinders wat elke dag langs die lewenspad lê – verwaarloos, mishandel en weerloos. Hulle het nie net medelye nodig nie, maar beskerming, hulpbronne en mense wat bereid is om betrokke te raak.

Dit is waarom Ride-for-a-Child voortgaan. Nie om skuldiges te soek nie, maar om bewusmaking te skep, fondse te werf en maatskaplike werkers te ondersteun wat hierdie kinders se nood daagliks moet hanteer.

Die slagoffer lê langs die pad. Dit is ’n kind! Gaan ons verbyloop, of gaan ons soos die barmhartige Samaritaan stop?

Jy kan help deur ’n finansiële bydrae te lewer, die boodskap met familie, vriende en kollegas te deel, jou onderneming te betrek of vir hierdie kinders en hul versorgers te bid.

My Munga-droom eindig voordat dit begin het, maar die reis na hoop vir weerlose kinders moet voortgaan. Help ons om die Herberg van Hoop se deur oop te hou!

Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan (Jak 1: 27, AFR83).

Die volledige span is:

Annatjie van Wyk – soloryer

Équipé-span: 

Thierry Beheydt

Arnold Cilliers

Christo Cilliers

Jacques Leipoldt

Riaan Loots

Ds Theuns Botha – moes onttrek weens ’n skouerfraktuur.

Spanbestuurder: Hannes Bester

MUNGA:  25-29 NOVEMBER 2026