’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. (Spreuke 31: 10, AFR83)

Dis tyd. Tyd om selfoon skoon te maak. Die gewoel van die lewe en besig wees, en sy deurmekaar-geit spoel soms oor na my selfoon se galery. Selfoon skoonmaak, en onnodige prentjies uitvee, is soos kaste regpak, nie waar nie?

Soos ek uitvee en skoonmaak, staan ek stil by een spesifieke skermgreep. Hierdie skermgreep is ’n beeld van ’n vrou, waarmee ons ons almal kan vereenselwig. Met haar rug na my toe, staar sy na die see voor haar. In die hoek van die prentjie staan die teks: Only when you become a diamond, you will understand why life had to pressure you.

Hoekom was hierdie prentjie vir my so treffend? Hoekom het ek hierby stilgestaan? Dalk gee dit erkenning aan wat ons hedendaags ervaar. Ons almal ervaar die een of ander tipe druk of spanning in die tye waarin ons lewe. Of dit nou finansies, tragedie, kerk, werk of persoonlik is. Ongeag jou omstandighede.

Hierdie prentjie is van toepassing op ons almal. Dit gee erkenning en geldigheid daaraan dat dit wat ons ervaar, werklik is. Dit het my verder laat dink. Hoe word edelstene gevorm? Waarom is dit ietwat relevant tot my as vrou?

Die vorming van diamante en edelstene is ’n fassinerende reis wat oor miljoene jare plaasvind, en uiterste toestande diep binne die kern van die aarde behels. Stel jou hierdie voor: Onder die aarde se oppervlak, sowat 100 kilometer diep, waar die druk gelykstaande aan ongeveer 3,2 miljoen kilogram per vierkante meter is, en die temperatuur ’n brandende 1 200 grade Celsius bereik!

In hierdie omstandighede word koolstofatome aan ekstreme druk en hitte blootgestel. Daardie blootstelling en omstandighede verander die koolstofatome in skitterende kristalle, vandag bekend as diamante of edelstene.

Jy mag dalk wonder hoe die maak of ontstaan van diamante verband hou met ons alledaagse menswees, en veral vrouwees? Kom ek verduidelik. Alhoewel die omstandighede nie dieselfde is as wat die koolstofatome ervaar het nie, kan ons erken dat die lewe wel sy uitdagings bied. Die meeste van ons voel die een of ander vorm van druk of spanning. Die gewig van die lewe, en my vergelyking met ’n koolstofatoom, is juis daarom relevant!

Vriendin, soms mag jy voel of die lewe net aanhou druk, en dalk doen dit. Miskien voel jy nie goed genoeg nie, miskien voel jy op ’n donker plek of asof alles net eenvoudig op jou skouers druk, soortgelyk aan die metaforiese koolstofatoom in die diep donker kern van die aarde. Indien dit die geval is, het ek nuus vir jou.

In die boek van Spreuke, meer spesifiek Spreuke 31: 10, raak die teksvers ’n knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene my diep. Met die kennis van hoe edelstene gevorm word, dink ek nou anders oor hierdie teksgedeelte.

Ons as vroue word gevorm deur die lewe, maar dan sê hierdie gedeelte dat ons soveel meer werd is, as dit (edelstene) waarin ons gevorm word.

Het jy al so daaraan gedink? Ons almagtige Vader, wat my en jou saamgeweef het, het gedink dit is nodig om in sy Woord, die Bybel, te noem dat ons as vroue méér werd is as edelstene. Nie sóós edelstene nie, maar méér as! Ons is as meer waardevol beskou as die duurste edelstene, ongeag hoe ons omstandighede ons vorm.

Om dit te beklemtoon, het die skrywer hierdie sin met ’n punt afgesluit en nie verder uitgebrei nie. Is dit nie bevredigend nie? Om te dink dat dieselfde God wat hemel en aarde geskape het, dit belangrik gevind het om my en jou in sy Woord hieraan te herinner, het my nuwe moed gegee! En ek glo dit kan dieselfde vir jou doen…

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap