Gemeente Upington is op 16 Julie 1976 gestig en het in 2025 ontbind. Die kerkgebou is sedertdien verkoop, maar daar is nog ongeveer 12 lidmate wat aan die Hervormde Kerk behoort.

Hierdie lidmate word vier keer per jaar deur ’n predikant besoek. Die eerste Sondag van die besoek word ’n erediens gehou en die ander Sondag word nagmaal bedien. Ouderling Willie Coetzee wat net buite Postmasburg bly, koördineer die besoeke tussen die Sinodale Dienssentrum en die predikante.

Aangesien daar nie meer ’n kerkgebou is nie, word ’n gastehuis se eetkamer gebruik as ’n ruimte om bymekaar te kom. Die gastehuiseienaars, Carel en Anita Oosthuizen, is ook lidmate van die Hervormde Kerk en stel gevolglik die eetkamer goedgunstiglik vir die dienste beskikbaar. Dit is ’n klein groepie lidmate wat die eredienste bywoon, maar hulle is toegewyde Hervormers. Ná afloop van die eredienste word verversings geniet en is daar geleentheid vir hartlike saamkuier.

Ek en my vrou, Ina, het die voorreg gehad om die lidmate van 1 tot 10 Mei te besoek en ’n erediens sowel as ’n nagmaaldiens te lei. Ons eerste besoekpunt was by ouderling Willie Coetzee en sy vrou, Letitia. Ons het ook by hulle oornag en hul gasvryheid terdeë geniet. Daarna het ons, op pad na Upington, by Crawford en Madelein Joubert op hul plaas besoek afgelê. Hul seun AC en sy verloofde, Janeke Viljoen, was ook tydens die besoek teenwoordig. Wat ’n voorreg om sulke gasvrye mense te ontmoet!  

Tydens ons besoek aan Upington het ons besoek afgelê by ouderling Berna van der Westhuizen en haar ma, tannie Babie Hanekom, asook by tannie Alet van Biljon, tannie Julia Oosthuizen, en diaken Nadine en haar man, Gertjie Calitz. Ek het ook vir tannie Babie aan huis nagmaal bedien aangesien sy met haar gesondheid sukkel.

Ons het ook saam met ouderling Berna gaan rolbal speel en só ander mense in die gemeenskap ontmoet.

Hierdie besoek was vir my werklik ’n ervaring wat ek vir lank sal koester. Die lidmate se toewyding het my veral opgeval. Geen moeite is ontsien om die eredienste by te woon nie. Hierdie eredienste is van die min geleenthede wat vir die lidmate die kans bied om bymekaar te kom.

Behalwe vir die besoek van ’n predikant, het die lidmate nie baie kontak met die Kerk nie. Ek het intussen verseker dat almal wel Die Hervormer en Blitspos per e-pos ontvang. Ek en ouderling Willie Coetzee sal ook seker maak dat diegene wat graag die Almanak en Bybelse Dagboek wil bestel, dit wel ontvang. 

Sterkte aan die ander predikante wat daar besoek gaan aflê en mag die Here julle seën tydens jul besoek. Dit was ’n uitreik wat ons lank sal onthou.