Argeoloë het al geleer dat ’n mens nie sommer ’n voorwerp moet weggooi nie, maak nie saak hoe niksseggend of waardeloos dit voorkom nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is ’n stukkie potskerf, of ostrakon, wat op ’n terrein by Mezad Hashavjahu, 12 kilometer suid van Tel Aviv af, gekry is.
Dié potskerf blyk toe by nadere ondersoek ’n beswaarskrif te wees van ’n oesarbeider wat hom op die bevelvoerder van ’n fort beroep het oor onbillike behandeling wat hy van sy toesighouer gekry het. Volgens die klaer is sy bokleed van hom af weggevat en nie weer aan hom terugbesorg nie. Volgens die Bybelse wet is so ’n optrede in ’n ernstige lig beskou en moes die oortreder daaroor tot strafregtelike verantwoording geroep word.
Dié beswaarskrif is om verskeie redes belangrik. Een daarvan is dat die inhoud ook oor een van die oudste konkrete verwysings na die instelling van die Joodse sabbat beskik.
Mezad Hashavjahu
Net eers iets oor die plek waar die ostrakon gevind is voordat na die inhoud daarvan gekyk word. Dit is gevind onder die vloer van ’n fort wat naby die Middellandse See opgerig is en oor die Filistynse dorpie Asdod uitgekyk het. Die grootte daarvan is 20 sentimeter lank en 16,5 sentimeter breed, en is in 14 reëls geskryf.
Die ostrakon (Foto: © Israel Museum, Jerusalem) is tussen 630 en 609 vC gedurende die regeringstyd van koning Josia van Juda geskryf. Dit wil sê, êrens kort ná die dood van die Assiriese koning Ashurbanipal, en vóórdat Psammetichus van Egipte die Filistynse vlakte verower het.
Die feit dat die fort suid gefront het, dui daarop dat dit opgerig is om aan Javne en die omliggende landbougebiede, asook die nabygeleë hawe van Javne-Jam, beskerming te gee teen die vyandige optrede vanuit die suide, hetsy die Filistyne of van Egipte af. Die fort is in 609 vC ontruim en verlate gelaat, waarskynlik as ’n resultaat van die besetting van die gebied deur Egiptiese magte en die dood van koning Josia.
In die Ou Testament word twee weergawes gegee van hoe Josia dood is. Volgens die een weergawe in 2 Konings 23: 29 is hy deur farao Nego by Megiddo doodgemaak. Die ander weergawe kom in 2 Kronieke 35: 20-27 voor en daarvolgens is hy deur Egiptiese boogskutters raakgeskiet, waarop hy na Jerusalem teruggebring is waar hy uiteindelik gesterf het.
Die beswaarskrif
Die appèl is in goeie Hebreeus geskryf en gee beskrywing aan ’n werker wat op die lande in die gebied van die fort gewerk het en toe onregverdig deur sy toesighouer behandel is. In sy appèl skryf hy:
Mag my heer, die bevelvoerder, na die woord van sy werker luister. As ’n oesarbeider het u werker in aar ʾAsam geoes. U werker het geoes en die ingesamelde oes in die graanskuur geberg volgens die gebruik vóór die sabbat. Terwyl u werker besig was om die oes in te weeg en in die graanskuur geberg het soos altyd, het Hôšaʿjahû, die seun van Šōbāj, gekom en u werker se bokleed gevat. Dit [het gebeur] terwyl ek die oes ingeweeg het soos altyd toe hy u werker se bokleed gevat het. Al my medebroers, hulle wat saam met my in die hitte van die son geoes het, sal vir my getuig. My mede-arbeiders sal vir my getuig, “dit is waar! Ek is onskuldig aan enige oortreding en dat hy my bokleed gekonfiskeer het”. Dit is seker die bevelvoerder se besluit of die kleed van u werker [aan hom] terugbesorg moet word. Betoon aan hom genade en gee die [kleed] aan u werker terug en wees nie ontevrede nie.
Die beginsel waarop die werker hom beroep, is ’n bepaling in die wet van Moses dat ás iemand ’n ander persoon se bokleed as pand neem vir skuld wat by hom aangegaan is, móét hy die kleed voor sononder aan hom teruggee, omdat dit sy enigste bedekking is … waarin hy moet slaap (Eks 22: 26-27; Deut 24: 10-13). Hy mag nie die man se bokleed vat sonder om dit vóór sononder aan hom terug te besorg nie.
’n Jood se bokleed was gedurende die dag sy jas wat hom teen die natuurelemente moes beskerm, en gedurende die nag sy kombers waaronder hy moes slaap. Dit moes derhalwe vóórdat die son ondergaan aan hom terugbesorg word. Die klaer het dus ’n sterk saak gehad waarop hy hom beroep het.
Die toesighouer wat die werker se kleed by hom gekonfiskeer het, se naam, Hôšaʿjahû, is onmiskenbaar ’n Judaïtiese naam.
Verwysing na die sabbat
Die ander saak wat in die skrywe genoem word en wat baie belangrik is, is die verwysing na die sabbat.
Kultuurhistoriese navorsers was in die verlede daarvan oortuig dat die sabbat oorspronklik ’n Babiloniese instelling was. Die Babiloniërs het elke 15 dae ’n rusdag gehad. Daarenteen het die Egiptenare weer elke tien dae ’n rusdag afgekondig, wat hulle aan die gode gewy het.
Die Israelitiese wet het egter ’n rusdag vir elke agtste dag gehad. Hul berekening van die dae het anders gewerk as ons moderne dagtelling. Die ou Israelse dagtelling het nie by môre begin om sewe af te tel nie, maar het by “vandag” begin tel. Hul telling het dus só verloop: Vandag is dag een, plus die volgende sewe dae, wat jou uitbring by die volgende sabbat. In effek het dit dus beteken dat volgens hul dagtelling die sabbat op elke agtste dag plaasgevind het. Hierdie begrip is belangrik. Volgens die Hebreeuse gematria, ’n verteltegniek in Hebreeus wat op die betekenis van getalle gebaseer is, het die getal agt die betekenis gesimboliseer van ’n nuwe begin.
Dit is waarom seuntjies ook op agt dae oud besny is. Die agtste dag is beskou as die eerste dag ná die sewe-dae-tydperk van onreinheid, en so is dié dag dus verstaan as die dag vir ’n nuwe en rein begin. Met die instelling van die sabbat het die verordening dus bepaal dat mense vir ses dae moet werk en op die sewende dag moet rus. Van sabbat tot sabbat was egter agt dae wanneer die daetelling op die sabbat begin.
Die sabbat was ’n eg Israelitiese instelling en het volgens dieselfde religieuse beginsel gegeld. Elke agtste dag, oftewel elke sewe dae, moes die volk as ’n goddelike instelling rus om met die Here ’n nuwe begin te maak.
Die appèl waarop die oesarbeider hom beroep het, was nié net om sy bokleed volgens die wetsbepaling van Moses terug te kry en dus regverdig behandel te word nie. Hy het hom inderwaarheid ook op die bevelvoerder van die fort se gehoorsaamheid aan die wet beroep sodat daar met hom as ’n arbeider ’n nuwe begin gemaak kan word terwyl hy in diens van die fort staan.
Die belang wat taalkundiges by dié ostrakon het, is dat die alfabet wat gebruik is, Oudhebreeus is en die geskrewe styl volg wat in koning Josia se tyd, die laat sewende eeu voor Christus, voorgekom het. ’n Kenmerk daarvan was dat die woorde oor klinkeruitgange beskik het en dat daar ook geen spasies tussen woorde gebruik is nie.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)