Titel: Drumpels en Drome
Outeur: Elritia le Roux
Genre: Jeugroman
Formaat: Sagteband, 215 pp
Uitgewer: KREATIV SA
ISBN: 978-1-7764733-2-8

Drie skoolmaats bevind hulself op die vooraand van hul grootmenslewe. Synde al drie in die laaste skooljaar is, is daar ’n warboel verwagtinge tussen die drie vir die toekoms wat voorlê, en waarna, so sou ’n mens verwag, al drie ewe gretig uitsien.

Maar die lewe verloop nie altyd glad nie en dinge gebeur wat ’n steuring veroorsaak in die mundane plattelandse bestaan waaraan hulle gewoond is.

Dit is veral twee van die drie hoofkarakters wat eerste die leser se aandag vang. Lena en Joshua, onderskeidelik die protagonis en antagonis in hierdie kompakte roman, weet intuïtief wat in mekaar se koppe aangaan. Altans so het Lena gedink ten spyte van die feit dat sy bewus is van sy andersheid.

Hierdie twee karakters versinnebeeld die woelende, ongeduldige, stuwende element van die jeug. Hulle wil wegbreek van die knellende landelike bestaan, maar is nie heeltemal seker hoe om die lewe se padkaart te lees nie. Waarskynlik omdat daar by albei ’n sterk, leidende volwassene afwesig is.

Die emotiewe ankerpunt in die driemanskap, Sonja, is die absolute teenpool. Komende uit ’n konserwatiewe familie in ’n konserwatiewe gemeenskap met ouers wat ankers is in die eng samelewing waarin sy geborge voel, is daar by haar nie die drif om die bande af te werp nie. In haar lewe speel die sterk leiding van volwassenes wat goed inpas in die gestruktureerde lewe, ’n groot rol. Sy sukkel as’t ware om die versugtinge van haar twee beste maters te verstaan.

Een van die twee vriendinne raak swanger en onmiddellik gons die dorpie. Daar is ’n paar kandidate wat moontlik die pa kan wees, maar niemand kom na vore en die verwagtende weier om ’n woord te rep.

Die uiteinde is amper voor die hand liggend – die dorpie is te klein en die driemanskap moet uitwyk en wyer velde gaan soek.

’n Groot gedeelte van die verhaal beskryf die wedervaringe wat die drie karakters in hul latere lewe beleef. Daar is heelwat sosiale kritiek tussen die lyne maar die storielyn bly ongeskonde en jy kry duidelik die gevoel dat daar ontwikkeling is – beide negatief en positief.

Ten spyte van die drie se omswerwinge in die groot stad, bly hulle tog op ’n manier met mekaar verweef al verskuif die intriges duidelik na die vroulike protagonis se kant toe. As gevolg van die amper voorspelbare storielyn, verwag ’n mens aan die einde ’n herstel van die verhoudinge tussen die drie hoofkarakters wat inderdaad gebeur, maar nie voordat Le Roux op ’n briljante manier ’n verskriklike bom laat bars nie. Dan eers word die werklike storie sigbaar en vra die leser sigself hoekom die arme drie jongmense soveel pyn moes verduur voordat enige een die vrymoedigheid gehad het om sy of haar binneste aan die ander karakters te ontbloot.

Drumpels en Drome is oorlaai met establishmentkritiek en sommige lesers mag dit steurend vind, maar dit is in wese ’n jeugroman en behoort baie waardering te vind in hierdie demografie.

Dit lees maklik en die storielyn is ewe deursigtig totdat die spreekwoordelike bom bars. Dan word ’n mens gekonfronteer met die vraag: “Is dit verkeerd om te swyg as jy van onreg bewus is?” Die boek verskaf nie ’n duidelike of ’n dogmatiese antwoord nie, maar skud verseker die leser genoegsaam sodat jy daaroor moet peins.

Dr Elritia le Roux is ’n voormalige predikant van die NHKA. Sy is tans ’n gemeentepredikant in Duitsland waar, in haar eie woorde, die volgende storie reeds besig is om in haar kop te draai. Sy is reeds tweemaal bekroon vir haar literêre werk.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap