My ouma, Clara Horn, het op 31 Mei 2023 ’n volle 100 jaar oud geword. Ek wou so graag haar storie deel terwyl sy nog met ons was, maar sy is Woensdag 21 Junie oorlede.
Clara Oosthüyzen is op 31 Mei 1923 op die plaas Diepsloot gebore. Haar skoolopleiding begin by Laerskool Nooitgedacht, en sy matrikuleer in 1940 aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp. Sy studeer onderwys aan die Normaalkollege in Heidelberg en verwerf haar Onderwysdiploma in 1943. In 1944 vier sy haar mondigwording.
Sy hou skool by Laerskool Nylstroom van 1945 tot 1946, waar sy vir oupa Johan Detloff (Johnny) Horn ontmoet by die Losieshuis in Nylstroom. Oupa is “Johnny” genoem gedurende die oorlog. Saam begin hulle ’n huis in Nylstroom bou. Ouma se ma, ouma Olga Hölting, word egter siek in Lydenburg, en Ouma gaan pas haar op. Sy hou verder skool by Laerskool Boschfontein, net buite Lydenburg.
Op 3 Julie 1947 trou Oupa en Ouma in die Hervormde Kerk Lydenburg, en die onthaal word gehou in die droogskoonmakersaal. Uit die huwelik is drie kinders gebore – Dorette Roos (Gemeente Elsburg) in 1950, Koos Horn (Gemeente Villieria) in 1951, en Jacomi de Wet in 1955. Net voor Jacomi se geboorte neem hulle Oupa se broerskind aan: Frikkie Horn (gebore 1947 en kort voor Covid oorlede in 2020).
Hulle woon op die plaas Skaapkraal, en Ouma hou skool by Laerskool Boschfontein tot aan die einde van 1961.

Ouma word hoof van Wenakker-skool vir verstandelik gestremde kinders in Lydenburg en begin ook die koshuis vir die kinders. In 1982 hou sy weer skool by Laerskool Boschfontein – sy was my graad 1-juffrou! Nou bly hulle op die plaas Sukkelgat.
Ouma was betrokke by die dienssentrum vir bejaardes waar sy weekliks die “gimklasse” aangebied het vir die bejaardes in die swart woonbuurt net buite die dorp. Sy het blomme gerangskik en uitgehelp by Ann Louise, die bloemiste in die dorp. Sy het hard gewerk vir die Vrouelandbou-unie en was onmisbaar by die NHSV van Gemeente Lydenburg, saam met di Nolte, SP Viljoen, Heyneke, Gert van Jaarsveld, Willemse en Jan Prinsloo.
Oupa sterf op 5 Januarie 1992, en Ouma trek van die plot af na ’n meenthuis in die dorp. Gedurende 2006 oorreed die kinders haar om na Ons Tuis te verhuis. Die aanpassing was groot, maar Ouma hou haar besig met naaldwerk vir die jaarlikse basaar van die tehuis. Sy laat bou een van die groot sonstoepe toe by Ons Tuis vir ’n naaldwerkkamer, en daar word baie gewerk.
Ouma word gedurende 2007 bevestig as ouderling in Gemeente Pretoria. Sy woon in Ons Tuis tot aan die einde van 2022. Daarna gaan woon sy by haar jongste dogter, Jacomi de Wet, in Bronkhorstspruit.
Ouma het Woensdag 31 Mei 2023 ’n volle 100 jaar oud geword. Of sy dit geweet en besef het, weet ons nie. Al wat ons weet, is dat die Here vir haar goed was en ook vir ons, almal wat vir haar so baie lief is. Sy was heeltemal doof en kon glad nie meer regop sit of loop nie. Soms was die geheue helder en het sy haar besoekers herken, maar ander dae het dit moeilik gegaan.
Haar drie kinders (een is oorlede), agt kleinkinders (twee kleinseuns is oorlede) en 11 agterkleinkinders (een agterkleindogter is oorlede), was bevoorreg om so ’n formidabele ma, ouma en oumagrootjie te kon hê. Ons kan steeds elke dag sê: Dankie, Heer! U was en is goed vir ons!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
