DIE VRYHEID VAN DIE EKSEGEET[i]
Prof BJ (Ben) Engelbrecht
(1924-2011)
4.1. Die nodigheid van eksegese
Die feit dat eksegese nodig is, hang saam met die karakter van die Heilige Skrif, naamlik dat dit geen towerboek is wat kant en klaar uit die hemel tot ons gekom het nie. Die Heilige Skrif is, hoewel dit die Woord van God volkomelik bevat, ’n menslike boek en dit wel in dubbele sin:
- Die Woord van God is deur mense gehoor, neergeskryf en literêr bewerk, en as sodanig het dit ’n geskiedenis.
- Dit word gelees deur mense in wie se geskiedenis dit sy bestaan voer.
Net hierdie laaste feit, naamlik dat die Heilige Skrif deur mense gelees word, maak eksegese nodig. Mense lees nie eenders nie en een en dieselfde gedeelte word deur verskillende mense so gelees dat die inhoude in teenspraak met mekaar kan staan. Die eerste vraag is nou: Wat staan daar presies geskryf? Dit is die eerste vraag en taak van die eksegese. Die feit dat die Woord van God deur mense gehoor, vertolk en neergeskryf is en dat die hoor en optekening en literêre bewerking daarvan oor eeue strek, vra eksegetiese arbeid.
Eksegese stuit voor verskeie uitdagings: Eerstens het ons nie die oorspronklike manuskrip van die profeet of apostel nie. Ons het alleen maar ’n afskrif wat ook literêr bewerk is. Tussen die ‘oorspronklike’ manuskrip en die afskrifte lê ’n ruimte, dikwels van baie eeue. Daarom moet ons eers die teks probeer vasstel deur die afskrifte te bestudeer, hul herkoms en betroubaarheid bepaal, ensovoorts.
Tweedens is daar ruimte tussen die optekening en die woord wat deur die profeet of apostel gespreek is in ’n bepaalde situasie. Hier sal die historiese en literêre kritiek sy arbeid moet verrig om die waarheid en sin van hierdie woord te bepaal deur die verhouding van woord en historiese en psigologiese situasie na te gaan. Tereg is opgemerk dat die ‘waarheid en waarde van die Gods Woord nie soseer in die oorgelewerde woorde self lê nie, as in die verhouding van hierdie woorde tot die mens en toestande waarin hierdie woorde vir die eerste keer gespreek is. Vandaar dat die Godswoorde losgemaak van hulle oorspronklike omgewing, mekaar skynbaar weerspreek’ (Van Selms 1951:58; Van Selms 1952: 122-123). Deur genoemde arbeid en deur hierdie feit dat die Gods Woord in ’n bepaalde situasie gespreek is en die waarheid van woord van situasie afhang, is tegelykertyd die grens aangedui van die tekskritiese en grammatikale arbeid van die eksegese sonder om daarmee te sê dat laasgenoemde nie ook uiters belangrik is nie.
Derdens is daar die ruimte tussen die woord wat die profeet gehoor en gespreek het en die openbaring self, die Gods Woord wat tot hom gekom het. Die teologiese kritiek probeer om hierdie ruimte te oorbrug en vanaf die vertolking van die openbaring terug te gaan na die openbaring, na die Gods Woord self. Uiteindelik gaan dit tog daarom: Wat sê God in hierdie gedeelte? (Oor hierdie drie ruimtes en hul oorbrugging, kyk Van Selms 1952:117.)
4.2. Die Bybel as God se Woord
Hiermee het ons weer uitgekom by die vraag wat ons gestel het in verband met die onderwerp: Woord en Gees. Die vraag kom naamlik hieruit voort: Ons gee toe dat ons die Woord van God alleen in die vorm van gebroke woorde van mense het; en tog is dit Gods Woord. Die vraag is: In hoeverre moet die feit dat hierdie boek Gods Woord is, ons eksegese bepaal? Of anders gestel, in hoeverre speel die leiding van die Heilige Gees by die eksegese ’n rol?
As gedeeltelike antwoord wil ons hier stel: Die eksegeet sal, watter metode hy ook al gebruik, van die veronderstelling moet uitgaan dat hy hier met Gods Woord te doen het, en daarom sal die eksegeet gedurigdeur biddend moet vra om die leiding van die Heilige Gees, met die vaste vertroue op die belofte dat die Gees hom in alle waarheid sal lei. Dit sal die eksegeet moet doen sonder om in sy metodiese veronderstellings te vergeet dat hierdie Godswoord alleen in gebroke mensewoord tot ons gekom het en kom. Laasgenoemde sal die eksegeet daarvan bewaar dat hy onkrities die huidige geskrewe woord met die profetewoord as sodanig en dan direk met die Godswoord vereenselwig. Omdat die Bybel geen orakelboek is nie, sal hy in hierdie verband ook besef dat sy grammatikaal-literêr-kritiese en historiese metode geen orakelmetode is wat uit die hemel neergedaal het nie; as dit enige diens wil lewer, moet dit menslike metode bly.
Die eerste veronderstelling, naamlik dat ons hier met Gods Woord te doen het, al is die vorm daarvan menslik, sal die eksegeet weer daarvan bewaar om sy teologiese gesigspunt uit die oog te verloor. Per slot van rekening bedryf hy tog teologie ten dienste van die prediking, die prediking nie van ’n mensewoord nie, maar van Gods Woord. Hierdeur sal die eksegeet besef dat ’n profeet nooit buite die geloof om herken kan word nie en dat die drie genoemde ruimtes tussen die Bybel, die profetewoord en Gods Woord alleen deur God self, deur die Heilige Gees in die geloof oorbrug kan word. Daarmee is onses insiens nie ’n grens gestel aan die taak van die eksegeet nie, maar wel aan die historiese en grammatikaal-literêre metode. Deur genoemde feit sal hy agterkom dat hy, behalwe van die historiese en grammatikale metode, ook van ander metodes gebruik sal moet maak om die Skrif te verstaan – met ander woorde, hy sal agterkom dat eksegese ’n teologiese wetenskap is.
Hierdie dubbele taak van die eksegese hang saam met die eie aard van die Bybel self. Hieroor het niemand myns insiens aangrypender geskryf nie as een van my leermeesters, Gerardus van der Leeuw (kyk Van der Leeuw 1958: 102; vgl ook Van der Leeuw 1954, veral bl 6).
De Bijbel is een natuurboek, vol driften, vol van eten en drinken, vrijen en trouwen, doodslaan en hoereeren, bloed- en rasbesef. Hij is een cultuurboek, vol van kunst en wetenschap, akkerbouw en veeteelt, oorlog en vrede, politick en levenswijsheid. Maar hij is geen humanistisch boek. Hij is een goddelijk boek. Geen idealistisch boek. Maar een realistisch boek. Hij weet van een oordeelenden God, wiens weg dwars door onze natuur en cultuur heengaat. Geboren, jawel – maar: in zonde. Drift, zeker – maar: geneigd tot alle kwaad. Arbeidend, natuurlijk – maar: onbekwaam tot eenig goed.
4.3. Eksegetiese metodes
Die probleem van die eksegese is dat daar geen enkele metode is wat in die geskiedenis gegee is en wat onfeilbaar en dus dié eksegetiese metode is nie. Dit blyk alreeds uit die begin van die eksegetiese arbeid in die Christendom wat miskien ook sy wortels het in die tipes van eksegese in die Nuwe Testament self. Die skool van Alexandrië (bv Klemens en Origines) het ’n allegoriese metode van eksegese voorgestaan, terwyl die skool van Antiochië (Johannes Chrysostomos en Theodorus van Mopsuesta) weer eksegese gesien het as ’n letterlike verklaring van die Bybel. In Noord-Afrika het Augustinus en Hieronymus probeer om die twee metodes te kombineer, terwyl Petrus Lombardus, Alexander van Hailes en Thomas Aquinas ’n viervoudige metode voorgestaan het, naamlik letterlik, figuurlik, moralisties en anagogies (misties).
Ons moet besef dat daar geen onfeilbare eksegetiese metode bestaan nie. Gedurigdeur is een rigting gekorrigeer deur ’n ander. So het in die 19de eeu Vilmarus sterk te velde getrek teen die filologies-grammatikale en histories-literêre metode se alleenheerskappy in die teologie en gepleit vir ’n eksegese wat tot die saak self, naamlik die prediking van die geskrifte en hul openbaringsgehalte, wil deurdring. So wil Bultmann die metode van Schleiermacher en Dilthey korrigeer met die regte eksegese, naamlik die eksistensiële interpretasie van die Nuwe Testament; terwyl Bleeker die probleem oplos deur skerp onderskeid te maak tussen eksegese (filologies-grammatikaal en histories-literêr) én die uitlegging (naamlik die teologiese soeke na ’n sin); daarteenoor wil Haitjema geen teologiese gehalte toeken aan die histories-kritiese en formgeschichtliche werkwyse in verband met die inhoud van die Heilige Skrif nie. Vir hom is hierdie metode nie teologiese arbeid nie en vir die eintlike teologie irrelevant (kyk hieroor Haitjema se artikel Geloofskriticisme als metode der theologie en KH Miskotte se Opmerkingen over theologische Exegese, in Tromp et al 1934:39-99).
In die loop van die eeuelange geskiedenis van eksegese, het verskillende dinge na vore gekom wat ons duideliker insig gee oor die metode, werkswyse, aard en taak van die eksegese. Hierdie dinge is die volgende:
- Hoewel die waarheid, sin en waarde van ’n bepaalde teks of groter Skrifgedeelte nie soseer in die oorgelewerde woorde lê nie, is die filologies-grammatiese, literêr-historiese metode by alle eksegese noodsaaklik en moet dit met die grootste eerlikheid, selfbeheersing, vlyt en objektiwiteit deurgevoer word, terwyl dit van alle hulpmiddele soos die filologie, die semantiek, die sintaksis en die tekskritiese en literêr- en histories-kritiese metodes gebruik maak. Die voordeel van hierdie metode is dat dit in dié sin objektief is, dat dit nie die resultaat van die ondersoek probeer beïnvloed nie. Dit is onder andere met hierdie metode (hoewel destyds gebrekkiger as vandag) dat die Reformatore in hul eksegese hulle kon losworstel van die tradisionalisme van die Roomse Kerk.
- Indien eksegese objektief is in die sin dat dit nie probeer om vooraf die resultaat van die ondersoek te beïnvloed nie, wil dit nie sê dat dit prinsipieel en metodies vooronderstellingloos is nie, én dat die ondersoeker in die toepassing van die metode nie beïnvloedbaar is nie. Die voordeel is egter dat hierdie metode die resultaat van die ondersoek die minste sal beïnvloed. Die eksegeet moet egter welbewus wees dat ook hier keuses gedoen word, byvoorbeeld tussen filologiese skole. Selfs by die eenvoudige sintaksis en grammatika is daar ‘keuses’, soos byvoorbeeld wanneer ’n ingressiewe aoristus nie uit sy blote vorm blyk nie. Salig die eksegeet indien hy presies weet wat hy doen. Dit bring ons by die feit dat hoewel hierdie metode metodies en prinsipieel ’n groot mate van objektiwiteit kan inhou, veral in dié sin dat dit nie vooraf die resultaat probeer beïnvloed nie, daar by die toepassing van hierdie metode allerlei persoonlike faktore ’n rol speel.
4.4. Wat verwag die Kerk van ’n eksegeet?
Die Kerk het hierdie metode en arbeid nodig met die oog op die prediking van die Kerk. Die kerk wil weet: ‘Wat staan daar geskrywe?’ Daarom kan die Kerk verwag dat hierdie histories-grammatikale en literêre werk vir die Kerk met alle beskikbare hulpmiddels tot die einde toe gevoer moet word. Die Kerk mag ook verwag dat die eksegeet bewus sal weet dat hoewel die metode baie objektief is, daar by die toepassing van die metode ander faktore as die objektiwiteit van die metode ’n rol speel, byvoorbeeld in die keuses van ’n bepaalde tekslesing of van ’n bepaalde woordbetekenis of van ’n bepaalde grammatikale of sintaktiese moontlikheid.
In hierdie stadium kan die Kerk nie eis dat die leer van die Kerk die uiteindelike resultaat moet bepaal nie. Die Kerk kan nou nog hoogstens sê dat die eksegeet bewus moet wees dat die kerklike leer ’n rol kán speel. ’n Konsekwensie hiervan is dat die eksegeet nie sal kan sê dat sy interpretasie en die Woord van God ident is nie, of dat hy hardnekkig by finale uitsprake staan nie. Al wat die Kerk in hierdie stadium vra, is: ‘Wat staan daar geskrywe, histories en grammatikaal?’ Indien die eksegeet hier sou wou ophou, dan sal hy kwalik, ná die stel van die moontlikhede, één kon kies, want keuse sou al vooronderstelling veronderstel. Verder sal die Kerk van die eksegeet in hierdie stadium kan verwag dat hy sal weet dat, alhoewel hierdie werkmetode onmisbaar is, dit beperk is en nooit tot die volledige verstaan van ’n woord of geskrif sal kan voer nie. Hierdie metode is wesenlik beperk en wie die sin van ’n uitspraak met suiwer filologiese metodes wil vind, kom nie klaar nie.
4.5. Hermeneutiek
Hiervoor is nodig ’n tweede funksie van die eksegese, die tweede trap in die eksegetiese arbeid, naamlik die uitlegging, die hermeneuse (Vriesen), die fenomenologie (Schleiermacher, Van der Leeuw), das Verstehen (Wach, Dilthey), literêre kritiek (Van Selms) wat wil vasstel: Wat wil die skrywer sê?
Hierdie fase is nie te skei van die eerste nie, soos alreeds daaruit blyk dat dit in sekere sin óók histories-krities is omdat dit nou nie soseer die oorgelewerde woorde wil vasstel en wil nagaan nie, maar die sin, waarheid en waarde van die woorde en sinne in hul verhouding tot die geestelike persoon en sy situasie waarin daar gespreek is.
Hierdie tweede fase gaan oor die sinsvraag: ‘Wat wil die skrywer nou eintlik sê?’ Dit is egter nie so maklik om e mente auctoris te eksegetiseer nie. Dikwels is daar meer as een outeur, byvoorbeeld in die sin dat die bepaalde Skrifgedeelte redaksies beleef het en die oorspronklike woorde en inhoude in ’n bepaalde literêre, formgeschichtliche patroon ingeweef is. Die vraag is nou: Watter outeur se bedoeling is ter sprake?
Ook die wyse waarop die Nuwe Testament (byvoorbeeld Paulus) die Ou Testament eksegetiseer, kan nie as norm geld nie, omdat ons in die Nuwe Testament nie sonder meer ’n eenduidige tipe eksegese van die Ou Testament het nie, alhoewel ons moet toegee dat hierdie eksegese van groot hulp vir die hedendaagse eksegese kan wees. Die tweede probleem is dat hierdie soeke na die sin van ’n bepaalde Skrifwoord of -woorde waarin ons die saak wat die skrywer wil meedeel, wil begryp, baie meer as die eerste fase met persoonlike insigte en daarom met ’n mate van subjektiwiteit en onsekerheid te doen het. Tog is hierdie fase van eksegese nodig omdat die Kerk daarsonder net so min kan klaarkom as sonder die filologiese metode wat ons hierbo as die ‘eerste fase’ van eksegese beskryf het.
Wat kan die Kerk hier vra? Ons glo twee dinge: Eerstens dat die eksegeet hom baie deeglik bewus sal moet wees van die mate van subjektiwiteit, en alhoewel dit onmoontlik is om subjektiwiteit uit te skakel, die eksegeet hom liewer deur ‘Bybelse subjektiwiteit’ as deur filosofiese en ander subjektiwiteite sal laat lei. Tweedens, dat die eksegeet bereid sal wees om die resultate in hierdie verband aanhoudend te hersien en sal besef dat die gesag van sy resultate hierdeur baie beperk word. Hier blyk veral dat eksegetiese uitsprake nie sonder meer Skrifuitsprake is nie.
4.6. Die doel van eksegese
Die derde fase van eksegese is die fase wat vanaf die spreke van die outeur wil deurdring na die bedoeling van die Auctor Primarius, naamlik God. Hierdie stap behels dat ons vanaf die mensewoord, van wat die skrywer sê, sal probeer deurdring na Gods Woord, want wat God sê, dit is vir die Kerk van eintlike betekenis. Dit is trouens die hele doel van die eksegese, of anders het dit geen teologiese gesigspunt of teologiese funksie nie.
Hier word van die veronderstelling uitgegaan dat die Bybel as Godsopenbaring ons in die vorm van menslike Skrifwoorde die Godswoord self wil meedeel. Met ander woorde, hier staan ons voor die verband van Woord en Gees, van Skrif en Testimonium Spiritus Sancti, waarop ons al vroeër gewys het. Om hierdie taak van deurdringing tot die Godswoord via die Skrifwoord te volvoer, is eerstens nodig dat hierdie bepaalde Skrifwoord in sy verband gesien sal word met die geheel van die Bybelboodskap, veral dié dele wat direk op die bepaalde saak betrekking het. Drie dinge dien hier opgemerk te word:
Eerstens: Dat hier, baie meer as by die twee vorige fases van die eksegese, die ‘subjektiewe faktore’ ’n rol sal speel. Weer eens kan die Kerk vra dat die eksegeet deeglik van sy eie subjektiwiteit bewus moet wees, en die Kerk kan ook vra dat in die soeke na samehang van een gedeelte met die res van die Bybel, die eksegeet ook op vorige dergelike eksegetiese samehange, deur die Kerk daargestel in sy dogma, sal let as één van die moontlike samehange, hoewel vir die eksegeet nie noodwendig die enigste samehang nie.
Tweedens: Daar moet besef word dat in hierdie soeke na samehang, daar nie ’n metode uit die hemel geval het, ’n metode van die Heilige Gees nie. Ook hierdie arbeid is menslike werk, ’n menslike waagstuk, en die enigste wat ook hier gedoen kan word, is dat daar gebid en gehoop kan word dat die Gees ons in alle waarheid sal lei. As mensewerk sal ook hierdie arbeid, en veral hierdie arbeid, ’n baie voorlopige karakter dra. Maar juis vanweë die aard van hierdie werk sal ook besef moet word dat God die Heilige Gees nie ’n dieper, ander en magiese sin in die woorde van die skrywers gelê het, wat hulleself nie kon ken of begryp nie. Anders sou daar ’n Testimonium Spiritus Sancti buite die Skrif om wees. Dit kan nooit as metodiese prinsiepe van die eksegese geld nie, en hier lê trouens die grens van die allegoriese metode.
Hierdie ‘subjektiewe’ karakter het eksegete daartoe gebring om te beweer dat hierdie soort eksegetiese arbeid bokant die normale taak van die eksegese uitgaan, en soos die Rooms-Katolieke sê: alleen by die kerklike leeramp tuishoort en deur hulle volbring kan word. Tereg is opgemerk dat die Protestant hierdie standpunt nie kan volg nie. Die eksegeet moet ook kan sê: Wat sê die Auctor Primarius? Wat sê God? Anders is sy wetenskap nie teologie nie, maar blote filologie en fenomenologie.
4.7. Eksegese en dogma
Die kerklike dogma wil (in Protestantse sin) niks anders wees nie as kerklike eksegese oor die hoofpunte van die Christelike geloof. In ’n sekere sin is daar ook binne die Protestantisme ’n offisiële eksegese, naamlik die dogma van die Kerk. Aangesien dit oor die hoofpunte van die Christelike leer handel, is dit beperkter in omvang as die eksegese van die hele Skrif deur ’n eksegeet. Hierdie offisiële eksegese, die dogma, is in Protestantse sin prinsipieel net so subjektief en voorlopig as dié van die individuele eksegeet. Daarom moet die Protestantse Kerk die moontlikheid van hersiening, die moontlikheid van ’n gravamen vanaf die individuele eksegeet ooplaat. Hierdeur is die moontlikheid van ’n botsing tussen eksegese en dogma oopgelaat. Van sy kant moet die individuele eksegeet hierdie moontlikheid aksepteer en net soos die Kerk bereid wees om gekorrigeer te word. Ook hy mag nooit sy resultate sonder meer gelykstel met Gods Woord nie. Hy moet erken dat albei, eksegese en dogma, menslike interpretasie en daarom feilbaar is. Maar indien hy, nadat hy hierdie drie fases van eksegese deurloop het, sê ‘so sê Gods Woord’ en die Kerk weer na ernstige en soortgelyke studie van die Skrif sê ‘nee, so sê Gods Woord’ en nie een van die twee partye kan oortuig raak nie, dan is daar nie net die moontlikheid nie, maar die werklikheid van ’n botsing. In hierdie verband moet die eksegeet onthou dat die kerklike dogma alleen deur die Kerk gewysig kan word.
Onses insiens is dit prinsipieel moontlik dat die eksegeet in botsing kan kom met die leer van die Kerk, gesien hierdie drie fases van eksegese, want die eksegeet sê ‘So sê die Gods Woord’ en die Gods Woord is ook die enigste gesag, bron en norm in die Kerk. Twee voorbeelde sal genoegsaam wees om hierdie punt te bewys:
(a) In die dae van Calvyn het Erasmus voluit die Godheid van Christus bely en op hierdie punt volledig met die kerklike dogma saamgestem. Hy het egter Filippense 2:6 en ander Skrifgedeeltes wat op hierdie punt betrekking het, so verklaar asof hulle geen betrekking op hierdie punt van die Godheid van Jesus Christus het nie. Calvyn het toe gevra: Maar wat help my sogenaamde ortodokse belydenis indien my geloof geen grond en outoriteit in die Skrif het nie? (Calvin 1921:56).
(b) Tweedens het ’n hedendaagse teoloog verklaar: ‘Want ’n beskouing oor God wat nie in alle dele afhanklik is van wat die Kerk in die Skrif gevind het nie, mag onder ons geen verblyf vind nie’ (Van Selms 1952:129). Omdat albei, die eksegese van die individu en van die Kerk, sê ‘So spreek die Here’, is ’n botsing nie uitgeslote nie, en kan ’n eksegeet, indien hy by sy gevonde standpunt bly, dwaal.
4.8. Opsomming
As opsommende konklusie kan ons ná bogenoemde nou stel: Die eksegeet (wat net soos die ander teoloë in diens van die Kerk en die prediking staan) het net soos die ander teoloë gelyke vryheid en gelyke gebondenheid. Die vryheid van die eksegeet lê in sy wetenskaplike metode wat so ver moontlik objektief moet wees ten opsigte van die resultaat van sy ondersoek. Dit beteken onder andere dat die resultaat van die eksegese nie vantevore alreeds deur die veronderstellinge vas staan nie.
Die eksegeet se gebondenheid is tweërlei: aan die begin en aan die einde. Aan die begin is hy nie vry ten opsigte van sy uitgangspunt nie. Sy objek van ondersoek is die Heilige Skrif en daarmee die veronderstelling: God spreek in die Heilige Skrif. In hierdie verband kan die Kerk hoogstens vra dat hy as lidmaat sal glo en dat hy op versoek van die Kerk ook die dogma van die Kerk, wanneer dit by die oorweging van wyere samehange kom, as één van die moontlikhede sal oorweeg. Dit gebeur dan ook dat ’n eksegeet hom in sy keuse van ’n bepaalde moontlikheid van eksegese laat lei deur die leer van die Kerk, byvoorbeeld dat hy kies teen Sabellianisme of Arianisme. Dit is egter nie eksegetiese prinsiepe nie. Aan die einde is hy weer gebonde, naamlik wanneer sy resultaat nie klop met dié van die kerkleer nie. Dan moet hy by wyse van gravamen bereid wees om die teenstrydigheid uit die weg te ruim.
In hierdie sin is die eksegetiese bedryf altyd ’n waagstuk. Dit sou geen waagstuk gewees het indien die laasgenoemde gebondenheid nie bestaan het nie.
4.9. Literatuurverwysings
Calvin, J., 1921, Commentaries on the Epistles of Paul the apostle: Philippians, Colossians and Thessalonians. Translated by Pringle. Edinburgh: Calvin Translation Society.
Tromp, D., 1934, Openbaring der verborgenheid, Baam, Bosch en Keunig.
Van der Leeuw, G., 1954, De Bybel, Amsterdam, H.J. Paris.
Van der Leeuw, G., 1958, Inleiding tot de Theatogie, Amsterdam, H.J. Paris.
Van Selms, A., 1951, Wie achter is, moet voorgaan, ’s-Gravenhage, Boekencentrum.
Van Selms, A., 1952, Lig uit Lig, Pretoria, HAUM.
W.A., Weimar Ausgabe van Luther se werke.
Eindnota
[i] Hierdie hoofstuk is van historiese belang, aangesien prof BJ Engelbrecht dit in 1962 as advies aan die Kommissie van die AJKV opgestel het tydens die tugverhoor van prof Albert Geyser. Prof Engelbrecht het hierdie advies onveranderd in 1986 in die PS Dreyer Huldigingsbundel gepubliseer (sien https://hts.org.za/index.php/hts/article/view/2179/3993). In hierdie publikasie is dit verkort en taalkundig gemoderniseer. Die volledige verwysing van die oorspronklike artikel is soos volg: Engelbrecht, B.J., 1986, ‘Wat is die reg en die vryheid van die eksegeet’, HTS Teologiese Studies Jaargang 42/3 (September 1986), bl. 485-501). Die sentrale vraagstuk was tot watter mate die eksegeet aan die kerklike leer en belydenis gebind is. Dit moet ook gesien word teen die agtergrond van die standpunte oor die sogenaamde ‘dogmatiese’ eksegese teenoor ‘histories-kritiese’ eksegese, ’n debat wat in Europa om die kop van Karl Barth losgebars het na aanleiding van sy kommentaar op die Romeinebrief.