Die wêreld se oudste Bybelkaart staan bekend as die Madabakaart. Dié kaart is in 1884 in die vloer van ’n Bisantynse kerk uit die tweede helfte van die sesde eeu in Madaba, Jordanië, gevind.

Wat die ontdekking uniek maak, is dat die kaart nie op papier geteken is nie, maar met ’n groot aantal kleurvolle steentjies in mosaïek in die vloer van die skipgedeelte van die kerk uitgelê is. Die kaart is intussen mooi gerestoureer en vorm nou deel van die liturgiese deel van die St Georgekerk in Madaba.

Die kaart beeld die Heilige Land volledig uit, van ’n gebied bo in die noorde van die moderne Libanon tot onder by die Egiptiese Nyldelta in die suide. Die Dooie See vorm die westelike grens daarvan en die Jordaanwoestyn die oostelike grens. Die Jordaanrivier, Jerusalem en die Dooie See is die sentrale fokuspunt. Die verstommende in die uitleg van die kaart is die akkurate wyse waarop die Bybelplekke daarop aangedui word. 

Minstens agt verskillende kleure is gebruik in die steentjies wat die kaart voltooi. Verder verskyn daar meer as 150 Griekse inskripsies daarin wat die plekke aandui of inligting gee. Jerusalem word prominent uitgebeeld met drie strate, stadsmure, die vernaamste geboue en monumente. Verder sluit die uitbeelding van die stad ook 19 torings in, ses ingange en 11 kerke. Van daardie kerke is slegs die Kerk van die Heilige Graf, wat deur keiser Konstantyn die Grote in die vroeë vierde eeu opgerig is, nog in gebruik.

Een van die waardevolle bydraes van die Madabakaart is dat dit ook lig werp op die uitleg van Jerusalem gedurende die Bisantynse tyd. So kan die stadskern van die stad met sy markte, bekend as die cardo maximus, wat deur keiser Hadrianus laat bou is, gesien word, asook die Nea Theotokos, oftewel die Nuwe Kerk van die Moeder van God.

Die doel van die Madabakaart

Tot vandag toe bly dit een van die grootste misteries waarom die Madabakaart in die vloer van die destydse Bisantynse kerk gelê is en wie die samestellers daarvan was. Die bespiegeling draai om drie hoofteorieë.

Die een hipotese is dat die kaart bedoel was om aan Christenpelgrims ’n sleutel te bied om die Bybelse plekke aan hulle bekend te stel.

Die tweede teorie is dat die kaart van die Heilige Land bedoel was om God se heilsgeskiedenis visueel uit te beeld. Jerusalem is daarvolgens in die middel van die wêreld geplaas met die Kerk van die Heilige Graf reg in die middel van die stad. Die sesde-eeuse Christene se invloed op die kaart blyk duidelik in die inleg daarvan. Gedurende die Bisantynse tyd was Madaba ’n welvarende stad, en selfs bekend as die Stad van Mosaïek.

Die probleem met hierdie twee teorieë is dat baie van die plekke op die kaart niks met Christenpelgrims se belangstellings te doen gehad het nie. Die ander probleem is dat baie sogenaamde heilige plekke totaal ontbreek in die uitleg van die kaart, óf slegs as klein, onbelangrike plekke aangedui word.

’n Goeie voorbeeld hiervan is dat die Kerk van (Jesus se) Geboorte in Betlehem geheel en al in die kaart ontbreek. Betlehem se naam staan ook net in kleinletters geskryf. Verder word slegs een keer na Jesus in die kaart verwys, terwyl die vier verwysings na Madaba slegs uit tekste van die Ou Testament (Num 21: 30; Jos 13:9) aangehaal is.

Die derde hipotese is dat die kaart glad nie vir kerklike gebruik bedoel was nie, maar eerder vir ekonomiese en politieke oorwegings. Dit beteken dat die kaart dan eerder deel sou gevorm het van ander strukture en die sesde-eeuse kerk, wat in die tyd van keiser Justinianus (527-565 nC) gebou is, later eers bygekom het en oor die kaart gebou is.

Ongelukkig het die oprigting van die St Georgekerk in die negende eeu baie argeologiese materiaal in die proses vernietig sodat die werklike rede vir die samestelling van die Madabakaart nooit presies vasgestel sal kan word nie.

Die kaart is ook sodanig beskadig dat dele daarvan glad nie meer gesien kan word nie. Die kaart in sy huidige formaat is 10,7 x 4,6 meter groot. Die meeste kundiges reken dat die kaart oorspronklik 305 vierkante meter groot kon gewees het. Sommige reken selfs dat die Rooisee, die Tigris- en Eufraatrivier, asook Kreta en Cyprus ook oorspronklik deel van die kaart kon gewees het.

Aan die uitleg van die kaart is dit duidelik dat die samestellers daarvan die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, as verwysing gebruik het om die geografiese plekke vas te stel. Ander bronne wat waarskynlik ook gebruik is, is die Onomasticon van Bybelse plekname wat deur Eusebius van Caesarea in ongeveer 320 vC opgestel is, inligting wat uit Flavius Josefus se werke verkry is, asook handelskaarte wat gedurende die Bisantynse tyd in omloop was.

Die grootste invloed op die samestelling van die kaart was egter dié van die samestellers se eie kennis en ervaring van die land. Die samestellers moes uit die omgewing van Madaba gekom het, omdat die besonderhede rondom Madaba baie akkuraat is. Hoe verder die plekke van Madaba af is, hoe meer raak die afgeleë gebiede se inligting onakkuraat.

Die samestellers was dus duidelik bekend met die omgewing van Transjordanië en die Judese heuwellandskap, maar minder bekend met die meer afgeleë gebiede.

Foto’s: © Madain Project

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)