Sondag 27 September – Here, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?
Matteus 8: 23-27
Laat jouself toe om ongeveer 2000 jaar in die geskiedenis terug te gaan. Plaas jouself binne-in daardie klein, dobberende skuitjie. Hoor in jou ore die gehuil van die yskoue wind, voel hoe dit tot in jou murg sny. Hoor die gerammel van die donker water. Sien die majestueuse golwe wat dreig om die skuitjie om te slaan. Dit is klaarpraat! Vandag gaan jy in die diep, donker en onheilspellende see verdink. Miskien sou jou eerste gedagtes ook dié van die dissipels gewees het: Here, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?!
Miskien kan ons nou elkeen die storielyn na ons eie lewe deurtrek. Ons almal het al in die lewe, simbolies gesproke, storms ervaar en deurleef. Dalk voel dit of die storms van die lewe vandag dreig om jou skuitjie te vernietig. Reg deur die Bybel het God se kinders storms in hulle lewe verduur. Jesus self het geweldige storms ervaar. Die ergste storm ooit in die geskiedenis het Hom aan die kruis laat uitroep: My God, my God, waarom het U my verlaat?
Skielik onthou die dissipels: Jesus is mos hier, hier by hulle in die dobberende skuitjie. Hulle draai na Hom vir redding en verlossing. Jesus staan op en Hy bestraf die wind en die see. Die wind gaan lê en die water word kalm. Daar is vrede en rustigheid. Daar is weer hoop! Die dissipels is verwonderd. Jesus is almagtig, Hy het mag oor alles en almal. So is God ook in elke storm in ons lewe teenwoordig. As ons op die stormgeweld gaan konsentreer, sal ons van Hom vergeet. Dit is die kuns van die lewe: Dwing jou aandag weg van die storm waarin jy vasgekeer is. Fokus op God wat steeds in jou stryd teenwoordig is, en Hy sal in sy almag ook daardie storm stilmaak.
God bly met ons, waar ons ook mag gaan. In gevare, angs en lyding bied sy almag ons bevryding – God bly met ons, waar ons ook mag gaan (Gesang 269: 4).
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding
Dinsdag 1 September – As die lewe vir jou suurlemoene uitdeel…
Filippense 2: 14-15 Doen alles sonder kla of teëpraat (Fil 2: 14). Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe...
Maandag 31 Augustus – Liefde is nie afgunstig nie
Galasiërs 5: 26 Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie (Gal 5: 26). Hoe voel jy wanneer iemand meer guns as jy ontvang? Gun jy daardie persoon die nuwe motor of die vakansie of selfs die bevordering by die werk? Of vlam daar afguns en...
Sondag 30 Augustus – Jy is ’n nuwe skepping
Markus 2: 22Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi (Mark 2: 22).Daar is ’n winkelsentrum in ons omgewing wat opknapping ondergaan het. Die...
Saterdag 29 Augustus – As ’n gelowige eerlik kyk na selfvoldaanheid…
Openbaring 3: 14-22Laodisea was ’n strategiese, ryk stad, bekend vir sy bankstelsel, swart wol en mediese sentrum met oogsalf. Hierdie stedelike trots het oorgevloei na die gemeente: Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie (Op 3: 17a), maar Christus kyk...
Vrydag 28 Augustus – As ’n gelowige eerlik kyk na die geleenthede wat God gee…
Openbaring 3: 7-13Die stad Filadelfia was klein, nie bekend vir politieke invloed of militêre mag nie, maar vir sy ligging op ’n strategiese pad en sy volgehoue stryd teen aardbewings. Te midde van hierdie broosheid, leef ’n klein gemeente aan wie Christus ’n brief...
Donderdag 27 Augustus – As ’n gelowige eerlik kyk na skyn en werklikheid…
Openbaring 3: 1-6Sardis was eens ’n stad van rykdom en mag – maar teen die tyd van hierdie brief het sy glorie al begin verbleik. Dieselfde geld vir die gemeente: aan die buitekant was daar ’n goeie naam, ’n reputasie van lewe, maar Jesus spreek hulle direk aan: Ek...