’n Sielkundeprofessor het eenkeer vir sy eerstejaarstudente die opdrag gegee om elkeen ’n ballon op te blaas, sy of haar naam daarop te skryf en dit op die vloer te gooi. Hy het die ballonne gemeng en elke student vyf minute gegee om sy of haar ballon te soek. Niemand kon dit regkry nie, waarop die professor vir die studente vra om die eerste ballon wat hulle optel, vir die persoon te gee aan wie dit behoort. Binne vyf minute het almal hul eie ballon gehad. Hy het aan hulle verduidelik dat die ballonne hul geluk verteenwoordig. Solank jy na joune soek, kry jy dit nie. Wanneer jy vir ander se geluk omgee, vind jy ook jou eie geluk.

Januarie 2022 lê al amper op sy rug en ’n paar nuwejaarsvoornemens het reeds gesneuwel. Wanneer ons rondom ons kyk en luister na wat familie en vriende vir die nuwe jaar gekies het, is nuwejaarsvoornemens nie regtig belangrik nie – hul geluk is!

Na twee jaar van swaarkry, moeilike tye en baie aanpassings in ons persoonlike lewe, by die werk en selfs by die kerk, is so baie van ons op soek na vreugde, vrede en geluk – al beleef ons dit in die eenvoudigste en kleinste oomblik van ons alledaagse bestaan.

Die geheim van gelukkig wees, is om te aanvaar dat daar waar jy nou is, die wil is van die Here. Wanneer ons Matteus 6: 25-34 lees, merk ons op dat God ’n paar keer vir ons sê om nie bekommerd te wees nie: Hy sorg vir die diere en plante – hoeveel te meer dan nie ook vir ons nie?

Geluk is ’n keuse wat jy moet maak – dit is tuisgemaak! Jou fokus moet daarop ingestel wees om gelukkig te wees met dit wat jy het, met waar jy is en saam met wie jy is – by die huis en die werk sowel as by die kerk. Jy is presies waar jy moet wees – dit is God se wil.

Geluk en dankbaarheid loop hand aan hand – dit is ’n belangrike basis vir jou geestesgesondheid. Dankbaar vir die mense in jou lewe vir wie jy lief is. Dankbaar vir elke nuwe dag. Dankbaar vir oomblikke van vreugde. Dit is geskenke uit God se hand.

In plaas van nuwejaarsvoornemens, kies eerder makliker en bereikbare doelwitte wat jou geluk ’n hupstoot kan gee. Besluit waar en hoe jy betrokke wil wees en saam met wie jy dinge wil doen. Nie almal van ons se omstandighede is ideaal nie, ook nie daar waar ons as kerk en NHSV in ons gemeentes en die wêreld uitreik na ander mense en hul behoeftes nie. Ons gaan nie altyd suksesvol wees om mense se omstandighede te kan verander nie, maar ons liefdevolle omgee en warm harte gaan onvergeetlike oomblikke van geluk in hul lewens nalaat.

Geluk kan nie vasgevang word nie. Dit is nie ’n eindbestemming nie. Jy kan dit nie najaag nie. Dit is egter wanneer jy iets doen vir jou medemens in die oomblik van die tyd dat geluk so ongemerk op jou skouer kom sit. Eenvoudige dinge wat jou gelukkig maak – wat jou halwe beker vol maak!

Voorsitter: NHSV Hoofbestuur

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap