’n Teologiese perspektief[1] op sy reis van geloof, geregtigheid en inklusiwiteit

Meegevoel

Die afsterwe van Andries Gideon van Aarde op Maandag, 25 November 2024, is ’n groot verlies vir die Kerk en die akademiese gemeenskap, binne sowel as buite Suid-Afrika.

Andries het sy lewe gewy aan die nastreef van ’n teologiese verstaan en die bevordering van sosiale geregtigheid. Sy bydraes het ’n onuitwisbare merk op die veld van teologie gelaat en het talle mense geïnspireer om krities oor hul geloof en die implikasies daarvan vir die samelewing na te dink.

Die akademiese gemeenskap betuig diep meegevoel aan Andries se familie, vriende en kollegas. Sy onwrikbare toewyding aan Christus se leerstellings en sy toewyding aan radikale inklusiwiteit en geregtigheid het elkeen wat sy lewe en werk geken het, diep geraak.

 

HTS Teologiese Studies / Theological Studies

Andries word onder meer vereer vir sy onskatbare bydrae tot die ontwikkeling en uitbouing van die HTS Teologiese Studies (HTS). As hoofredakteur van 1985 tot 2023, het hy hierdie joernaal ontwikkel tot die voorste wetenskaplike joernaal in godsdiens en verwante literatuur in die ganse Afrika. Dit is een van net drie megajoernale van geesteswetenskappe wêreldwyd (publikasies van meer as 500 artikels in ’n driejaarsiklus). Sy leiding in die oorgang van ’n gedrukte joernaal na ’n aanlynplatform ongeveer tien jare gelede, het die lesertal en impak daarvan in vandag se syfers, waarskynlik duisendvoudig verhoog. Hy was ook instrumenteel in die ontwikkeling van baie ander joernale in Suid-Afrika om hierdie selfde roete te volg en het ’n reuse bydrae gelewer tot AOSIS Uitgewers wat vandag die grootste aantal ooptoegang-publikasies in Suid-Afrika uitgee. Volgens AOSIS se webblad, is 12.8 miljoen artikels van die HTS die afgelope ses jaar afgelaai.

Verlede jaar het die HTS ’n getal van 264 portuurgeëvalueerde artikels gepubliseer, die hoogste syfer van enige soortgelyke joernaal in Afrika (die tweede hoogste is 88); die HTS se impak-indeks is ’n indrukwekkende 24 (die tweede hoogste is 13); en dit het in 2023 soveel soos 598 sitasies behaal (die tweede hoogste is 129). (Kyk hiervoor Scimago Journal & Country Rank).

 

Akademiese prestasies

Andries van Aarde se akademiese reis is niks minder as merkwaardig nie. Hy het drie doktorsgrade (DD, DLitt, PhD), asook ’n Meestersgraad in Semitiese Tale, met onderskeiding behaal. Sy loopbaan het by die Universiteit van Pretoria begin na ’n kort periode in die bediening (1975-1980). In die akademie het hy deur die verskeie akademiese stappe gegaan, van lektor tot seniorlektor, medeprofessor, professor en departementshoof. Sedert sy aftrede tot en met sy afsterwe, was Andries professor en navorsingsgenoot by die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir die Bevordering van Navorsing asook by die Durban University of Technology.

Sy publikasie-rekord is indrukwekkend: minstens agt monografieë, 50 boekhoofstukke, 250 tydskrifartikels en redaksionele bydraes tot talle boeke. Andries se bydraes is wêreldwyd erken, met uitnodigings om as ‘n besoekende professor in verskeie kontinente op te tree, insluitend by gesogte universiteite in Europa, Israel, die VK en die VSA. ResearchGate dui ’n lesertal van 69,614 van sy publikasies aan en ’n h-indeks van 15. Sy akademiese vaardigheid en toewyding het hom ’n plek onder die mees gerespekteerde teoloë van sy tyd besorg.

Andries het verskeie internasionale toekennings ontvang, waaronder die volgende van Suid-Afrika is:

  • Vyf keer benoem as ’n uitnemende akademiese presteerder deur die Universiteit van Pretoria;
  • Ontvanger van die HCM Fourie-prys in 2007 vir prestasie in Bybels-Reformatoriese Teologie;
  • Die Pieter van Drimmelen-medalje in 2008 van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur in die veld van godsdiens;
  • Die ATKV-SA Akademieprys is in 2011 aan hom toegeken vir twee van sy Afrikaanse artikels wat in 2008 in die uitgawes 64/1 en 64/4 van die HTS verskyn het;
  • Die Andrew Murray – Desmond Tutu-prys in 2022 wat ten doel het om uitnemendheid en kwaliteit in die Christelike mediawêreld aan te moedig.

Hierdie erkennings beklemtoon die globale impak van sy werk en die respek wat hy in die akademiese gemeenskap geniet. Sy bydraes het teologiese diepgang en betrokkenheid gedien en ’n beter begrip van die kompleksiteite en nuanses van teologie bevorder.

 

Teologiese bydrae

Andries van Aarde se belangrikste bydrae in die teologie kan in drie hoofareas verdeel word: Jesus Studies en die sosiale konteks van Vroeë Christendom, Matteus Studies en Hermeneutiek. Sy benadering tot teologie word gekenmerk deur ’n diep begrip van tekste deur die perspektiewe van hul oorspronklike outeurs, hedendaagse luisteraars en moderne lesers te vertolk. Hierdie metode vereis ’n geïntegreerde insig aangesien hy poog om die innerlike dimensies en sielkundige waarde van elke stelling te verstaan.

In sy Jesus Studies ondersoek Andries die historiese en sosiale konteks van Jesus se lewe en leerstellings. Hy delf in die etiese implikasies van Jesus se boodskap en hoe dit die maatskaplike norms van sy tyd uitgedaag het. Sy werk in hierdie area het waardevolle insigte verskaf oor die transformerende krag van Jesus se leer en die relevansie daarvan in die hedendaagse samelewing.

Matteus Studies is ’n ander belangrike area van Andries se werk. Hy ondersoek die Evangelie van Matteus deur ’n kritiese lens en verken die teologiese temas en historiese konteks daarvan. Sy navorsing het lig gewerp op Matteus se unieke perspektiewe en hoe dit bydra tot ons begrip van Vroeë Christendom.

Hermeneutiek, die studie oor die vertolking van tekste, is ’n sentrale tema in Andries se werk. Hy beklemtoon die belangrikheid daarvan om die historiese en kulturele konteks van Bybelse tekste te interpreteer ten einde hulle betekenis ten volle te begryp en diensbaar vir die teologie te maak. Sy benadering van ’n hermeneutiek van suspisie is uitdagend en innoverend en bied opwindende perspektiewe deur omsigtig met godsdienstekste om te gaan.

 

Radikale inklusiwiteit en sosiale teologie

Vir byna 30 jaar is Andries se gedagtes, soos weerspieël in sy talle publikasies, gekenmerk deur kontroversie in sekere kringe in Suid-Afrika. Sommige het sy “sosiale teologie” en begrip van die Bybel as onortodoks en selfs ketters beskou. In sy monografie, Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God (2001), ondersoek hy hoe vaderloosheid die lewe en bediening van Jesus beïnvloed het. Die boek voeg ’n nuwe dimensie by tot die studie van die historiese Jesus en demonstreer oortuigend dat vaderloosheid fundamenteel was in Jesus se bediening.

Andries het altyd volgehou dat hy nie van die kern van ortodoksie afwyk nie. Sy kritiese teologie is ook oop om ryklik te put uit nie-Bybelse getuienis en onkonvensionele oortuigings. Hy kritiseer Afrikanernasionalisme, manlike dominansie, kerklike institusionele mag, homofobie, die onderwaardering van kinders, rassisme en ’n etniese selfbehoud met die gepaardgaande afsydigheid teenoor ekumene.

Andries se toewyding aan radikale inklusiwiteit is ’n deurslaggewende kenmerk van sy werk. Hy glo aan die Evangelieboodskap se eis van inklusiwiteit en geregtigheid en het sy loopbaan gewy aan die bevordering van hierdie waardes. Sy kritiek op maatskaplike en kerklike strukture wat uitsluiting en diskriminasie voortsit, het hom gevolglik kontroversieel gemaak. Dit het hom egter ook respek en bewondering besorg by diegene wat sy visie van ’n meer inklusiewe en regverdige samelewing gedeel het.

Sy benadering tot teologie beklemtoon die belangrikheid daarvan om sosiale kwessies vanuit ’n teologiese perspektief aan te spreek. Hy argumenteer dat teologie nie tot abstrakte konsepte beperk moet wees nie, maar betrokke moet raak by die werklike probleme wat mense se lewens beïnvloed. Sy benadering tot sosiale eksegese is prakties en transformerend en bied ’n visie van geloof wat diep betrokke is by die wêreld vandag en verbind is tot sosiale geregtigheid.

 

Wysheid, geregtigheid en genade

Cambridge Scholars Publishing (CSP) het Andries versoek om in boekformaat aan te toon hoe sy lewensverhaal sy sienings oor God, Jesus en die Bybel beïnvloed het. Hierdie geleentheid het gelei tot die publikasie van twee omvattende volumes met die oorkoepelende titel van, Jesus, Paul and Matthew. Hyself bestempel hierdie twee volumes as die meesterwerk van sy akademiese loopbaan.

Hierdie volumes begin met ’n beskrywing van die diversiteit en pluraliteit van die Vroeë Christendom. Andries argumenteer dat die Koninkryk van God die etiese appèl is wat deur die historiese Jesus gemaak is, op verskillende maniere verder ontwikkel is deur Paulus en Matteus.

Die eerste volume, Discontinuity in Content, Continuity in Substance, fokus op Jesus se etiese leerstellings en hoe Paulus en Matteus dit geïnterpreteer het. Andries argumenteer dat hoewel daar verskille is in hoe hierdie figure Jesus se boodskap verstaan en verwoord het, daar ’n fundamentele kontinuïteit is in hulle klem op die etiese implikasies van die Koninkryk van God.

Die tweede volume, To and From Jerusalem, ondersoek die geografiese en simboliese betekenis van Jerusalem in die ontwikkeling van vroeë Christelike denke. Andries toon aan hoe dat die stad Jerusalem as ’n fokuspunt gedien het vir die teologiese refleksies van Jesus, Paulus en Matteus.

In die slothoofstuk van hierdie volume, bied Andries ’n outoëtnografiese refleksie wat hy as sý pad van Pretoria na Emmaus, via Jerusalem, bestempel. Hy delf in sy persoonlike en geestelike reis van sy vormingsjare en bied ’n diep persoonlike en reflektiewe weergawe van sy ontnugtering in Afrikanernasionalisme en die verguising wat hy in die Kerk ondergaan het.

Andries se refleksies beklemtoon verder die uitdagings wat hy in sy loopbaan in die gesig gestaar het. Sy toewyding aan radikale inklusiwiteit en sosiale geregtigheid het hom dikwels in konflik met gevestigde instellings en maatskaplike norms gebring. Hy het kritiek en teenkanting in die gesig gestaar, maar het standvastig in sy oortuigings gebly. Sy reis is ’n getuienis van die krag van geloof en die eis om getrou te bly aan sy oortuigings, selfs in die aangesig van teenspoed. Ten spyte van ernstige kerklike aanvalle en selfs georkestreerde pogings tot ekskommunikasie en verskeie dissiplinêre verhore deur die amptelike organe van die Kerk, het hy enduit lojaal en in solidariteit met die Kerk gebly.

Ek wil die drievoudige heliks – geleen uit die genetika – as metafoor gebruik om die betrokke Zeitgeist te beskryf. Hierdie metafoor druk vir my die verweefdheid van drie besondere invloedryke teoloë van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) uit, te wete Albert Geyser, James-Alfred Loader en Andries van Aarde. Elkeen van hierdie teoloë het unieke perspektiewe en insigte na vore gebring, inderdaad verweef soos die drie stringe van ’n drievoudige heliks. Saam verteenwoordig hulle, myns insiens, ’n dinamiese verhouding wat die teologiese diskoers beduidend in die NHKA gevorm het. Hulle afsonderlike en gesamentlike bydraes vorm ’n samehangende en transformerende visie van geloof, geregtigheid en inklusiwiteit. Hierdie benadering is waarskynlik die eiesoortige karakter van wat Hervormde teologie behoort te wees, soos aanvanklik bedink deur die Etiese Teologie in Nederland in die 19de eeu. Waarheid moet ’n ontmoetingsgebeure wees.

 

Impak en nalatenskap

Andries van Aarde het ’n diepgaande impak op teologie en die breër godsdienstige gemeenskap nasionaal en internasionaal gemaak. Sy werk het konvensionele denke uitgedaag en nuwe weë vir teologiese refleksie en betrokkenheid geopen. Sy toewyding aan radikale inklusiwiteit en sosiale geregtigheid het ’n nuwe generasie teoloë en godsdienstige leiers geïnspireer om krities na te dink oor die rol van geloof in die aanpak van sosiale kwessies.

Andries se teologie is dus diep verweef met sy etiek van ’n navolging van Jesus. Hy beliggaam die liefde van Christus in sy uitreiking na gemarginaliseerde gemeenskappe en sy sorg vir diegene aan die rand van die samelewing. Sy betrokkenheid onder andere by die NHKA se To Care aksie vir etlike jare lank, toon ook sy erns om sy oortuigings ook uit te leef. Sy ondersteuning aan die Maranatha Reformed Church of Christ (MRCC) is ’n verdere getuienis van sy onselfsugtige, Jesus-vormige uitreik na en ondersteuning van ander.

Andries se invloed strek duidelik verder as net persoonlike teologiese besinning. Hy het die denke en loopbane van talle akademici en ander individue, binne en buite die kerk, help vorm. Die Fakulteit Teologie en Godsdiens aan die Universiteit van Pretoria het gevolglik Andries tydens sy Eeufees in 2017, vereer as een van die tien mees invloedryke teoloë van die Fakulteit gedurende die afgelope honderd jaar. Hy het ’n deurslaggewende rol gespeel in die “Oopmaak van die hekke” van die Fakulteit (die leuse van die Eeufeesvieringe). Moltmann – wat ’n eredoktorsgraad by die Fakulteit tydens die Eeufees ontvang het – het ook later in ’n boek hierna verwys as die “Gateway-Teologie” van Pretoria. Moltmann skryf ook in ’n ander boek weer dat Jesus buite die mure van Jerusalem gekruisig is omdat dit presies sê vir wie Hy gekruisig is: juis vir diegene buite die mure van Jerusalem.

Andries en sy vrou, Esther, het ’n klompie maande gelede na ’n aftree-oord verhuis. Weliswaar verrassend, hang daar prominent teen die een muur in sy studeerkamer, ’n geraamde foto waar hy en Moltmann saam verskyn. My afleiding was dat Andries homself toenemend geassosieer het met die teologiese aksente van Moltmann se insluitende, ekumeniese en ekologiese kontoere.

Die akademiese en kerklike gemeenskap rou oor die verlies van ’n briljante teoloog, kollega en mentor.

Die nalatenskap van Andries sal voortleef om toekomstige geslagte teoloë en gelowiges te bly inspireer en rig.

 

[1] Hierdie eulogie is voorgehou tydens die gedenkdiens van Andries van Aarde op 06 Desember 2024 in Pretoria-Oos Gemeente van die NHKA met die uitdruklike versoek dat dit ’n teologiese waardering as uitgangspunt moet hê; ’n ander kollega sal die kerklike waardering doen. Andries was egter ’n geïntegreerde persoon en sy akademie en geloof was nie twee aparte sake nie. Hy het sy teologie in die kerk en vir die kerk bedryf. Oorvleueling is gevolglik onvermydelik.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap