9,6 miljoen mense sterf jaarliks aan kanker. Dit is meer as die gekombineerde sterftes van MIV/vigs, malaria en tuberkulose. Daar word beraam dat teen die jaar 2030 sowat 13 miljoen mense jaarliks sal sterf as gevolg van kanker.

Wêreldkankerdag op 4 Februarie elke jaar het ten doel om klem te lê op ’n kankervrye toekoms. Om dit reg te kry, moet ons gereeld deur middel van bewusmakingsprogramme mense inlig sodat hierdie dodelike siekte gestuit en die sterftes verminder kan word.

Deur mense in te lig en deel te wees van die wêreldwye #IAmAndIWill beweging, kan een derde van kankergevalle voorkom word en nog ’n derde betyds behandel en genees word. Indien die korrekte inligting versprei word rakende die voorkoming van kanker en die regte behandeling voorsien word aan kankerpasiënte, kan na raming soveel as 3,7 miljoen mense se lewens jaarliks gered word.

Wat is kanker?

Kanker is ’n siekte waar normale selle in die liggaam abnormaal begin groei om ’n gewas of kankeragtige weefsel te vorm. Kanker is nie aansteeklik nie en kan dus nie van een persoon na ’n volgende persoon oorgedra word nie. Lees by https://www.cansa.org.za hoe CANSA in Suid-Afrika daagliks in die stryd teen kanker betrokke is by verskeie programme wat landwyd aangebied word ter bewusmaking van kankervoorkoming en genesing.

Tipes kankergewasse

  • Goedaardige gewasse. Hulle groei stadig, versprei nie, is nie kankeragtig nie en lyk soos normale selle.
  • Kwaadaardige gewasse. Hulle groei vinniger as goedaardige gewasse, versprei na ander weefsel en vernietig dit in die proses. Hierdie gewasse versprei ook na die res van die liggaam en vorm sekondêre gewasse (metastasis).

Tipes kanker

Die Groot K word in vyf groepe geklassifiseer volgens die oorsprong van die kankerselle in organe of weefsel:

  • Karsinoom. Hierdie is die tipe kanker wat die meeste gediagnoseer word. Dit begin in die selle van die membraan rondom ’n orgaan wat die orgaan beskerm. Hierdie tipes kanker sluit in borskanker, longkanker en pankreaskanker, en kan ook in ander organe en kliere voorkom.
  • Sarkoom. Dit begin in die weefsel ondersteunend tot die organe soos been, kraakbeen, vet, spiere of bloedvate en is ’n skaars tipe kanker.
  • Limfoom. Hierdie kankerselle het hul oorsprong in limfosiete, die selle wat deel is van die immuunstelsel. Die tipes kanker is Hodgkin- en Non-Hodgkin-limfoom wat veral by tieners voorkom.
  • Leukemie. Dit staan ook bekend as bloedkanker. Die beenmurg word onderdruk sodat daar nie nuwe witbloedselle (liggaam se weerstand), plaatjies (dit laat die bloed stol) of rooibloedselle gevorm word nie.
  • Melanoom. Hierdie selle het hul oorsprong by die vervaardiging van pigmentasie in jou vel – ons ken dit as velkanker. As gevolg van die hoë vlakke van ultravioletstrale in Suid-Afrika het ons ’n baie hoë voorkoms van velkanker in ons land.

Die vyf kankers wat vroue in Suid-Afrika die meeste affekteer:

  • Borskanker. Een uit elke 26 vroue ontwikkel borskanker. Dit kan deur gereelde ondersoeke betyds gediagnoseer en behandel word. Lees in die someruitgawe van die NHSV se Vroueflitse by https://www.nhsv.org.za/publikasies/ meer oor die trauma verbonde aan borskanker.
  • Servikale kanker. Een uit elke 39 vroue kry servikale kanker. Dit kan effektief behandel word indien toetse by jou dokter gereeld gedoen word en die kanker vroegtydig opgespoor word.
  • Baarmoeder-/uterus-/endometriumkanker. Een uit elke 147 vroue kry dit. Die endometrium is die voering van die baarmoeder waar die kankerselle kan ontwikkel. Hier is gereelde siftingstoetse weer eens van die uiterste belang vir vroegtydige diagnose.
  • Longkanker. Indien longkanker in ’n vroeë stadium gediagnoseer word, het jy ’n groter kans om te herstel. ’n Gesonde lewenstyl speel ’n belangrike rol in die voorkoming hiervan.
  • Kolonkanker. Hierdie kanker het die afgelope paar jaar toegeneem onder vroue. Deur bedag te wees op vroeë simptome, kan dit betyds behandel word.

Wie kan betrokke raak by bewusmakingsveldtogte?

Almal het ’n stem! Dalk het jy kanker oorwin en is jy bevoorreg om jou storie te vertel. Jy is miskien ’n student op kampus of ’n onderwyser by ’n skool waar jy inligting kan versprei. Gesondheidswerkers, dokters en verpleegsters by hospitale is in ’n posisie om kankerpasiënte by te staan en te help. Jy en jou vriende of kollegas by die werk kan ’n impak hê deur geleenthede te reël waar julle saam in die gemeenskap betrokke kan raak deur middel van bewusmakingsveldtogte.  

Ons het die vermoë om daadwerklik betrokke te raak en so by te dra om die wêreld ’n kankervrye plek te maak! #WorldCancerDay is ’n inisiatief van die Union for International Cancer Control (UICC) wat in 2000 ontstaan het en vandag nog breedvoerig inligting deel met die publiek. Hulle vra by https://www.worldcancerday.org/ vir elkeen se betrokkenheid.

Deur in die openbaar oor kanker en ons ondervinding daarvan te praat, help ons ander mense om kanker beter te verstaan en te besef dat daar nie ’n stigma aan kanker kleef nie. Hoe meer ons weet van kanker, hoe meer mense kan gered word, en hoe meer kan die vrese rondom kanker verminder word. Almal van ons het ’n storie om te vertel – wat is joune?

af
af
Deel met behulp van
Copy link