Een van die gewilde plekke in ou Jerusalem wat as ’n toeriste-attraksie voorgestel word, is ’n tweeverdiepinggebou wat bo-op die tempelberg aan die suidwestelike kant van Sionsberg opgerig is. Die onderste verdieping van die gebou word tradisioneel voorgehou as die graf van Dawid, terwyl die boonste verdieping as die vertrek uitgewys word waar Jesus en sy dissipels hul laaste Pasga-ete geniet het voordat Hy gekruisig is.

Die vraag ontstaan nou: Hoe betroubaar is hierdie aanspraak werklik en het Jesus en sy dissipels regtig in ’n vertrek bokant die graf van Dawid hul Pasgamaal gehad?

Die Coenaculum

In Lukas 22: 7-12 word vertel dat Jesus vir Petrus en Johannes gestuur het om vir hulle in die stad Jerusalem ’n plek te gaan kry waar hulle die Pasga saam kon eet. Die plek waarheen Jesus hulle gestuur het, sou glo wees in die bokamer van die huis van ’n man wat hulle by die ingang van Jerusalem tegemoet sou kom.

Die gebou wat nou uitgewys word as waar Jesus en sy dissipels die Pasga-ete genuttig het, is aan die suidekant van die berg geleë, en kan nét buite die mure van die huidige Ou Stad van Dawid gesien word. Dié gebou staan in Latyn as die Coenaculum bekend, wat “eetkamer” beteken.

Al drie die hoofstroomgodsdienste – die Joodse godsdiens, Islam en die Christendom – gee erkenning aan die gebou. Die gebou is so verdeel dat dit huisvesting aan ’n sinagoge, moskee en kerk kan gee.

Vanweë die heilige aard van die plek is geen argeologiese opgrawings daar toegelaat nie. Die enigste veranderinge wat nóg by die gebou of direkte omliggende gedeelte daarvan toegelaat is, was onderhoudswerk wat daar verrig moes word.

Hóé akkuraat die inligting is dat die vertrek waar Jesus en sy dissipels die Pasga gevier het bokant die graf van Dawid was, is nie so eenvoudig om te bevestig nie. Eerstens sal ’n mens eers moet seker maak wanneer presies die gebou wat as die Coenaculum bekend staan opgerig is, en wat die rol daarvan oor die eeue heen was. Tweedens sal dan ook eers seker gemaak moet word of dié plek werklik die historiese perseel is waar koning Dawid begrawe is en waar die bokamer geleë was waar Jesus sy laaste Pasga genuttig het.

Die graf van Dawid

Volgens beskrywings in die Ou Testament is Dawid in die Stad van Dawid op ’n plek begrawe waar die terrein blykbaar oor die Kidronvallei uitgekyk het (1 Kon 2: 10; Neh 3: 14-16). Waar dié plek was, word duidelik gesê, maar nie presies genoeg om die plek vandag akkuraat te kan bepaal nie.

Mense in die Bybelse tyd het nooit groot sentiment oor die plek van iemand se graf ontwikkel nie. Die rede daarvoor is dat grafte plekke van onreinheid was. Sentiment oor waar iemand spesifiek begrawe is, het eers later gekom. So het dit gekom dat die graf van Dawid eers van die Middeleeue af met Sionsberg geassosieer is. Die graf is daarvolgens op die berg geleë. Die probleem was egter, waar op Sionsberg?

Volgens die moderne siening word die Bybelse Sion aan die westelike kant van die berg geplaas. Kundiges argumenteer egter toenemend dat die Bybelse Sion waarskynlik verbind moet word met die voorheen Jebusitiese Stad wat Dawid ingeneem het en wat aan oostelike kant van die berg geleë is.

Aan watter kant die Bybelse Sionsberg ook al geleë was, oos of wes van die berg, beteken dit nogtans dat die Coenaculum aan die suidekant van die berg niks met die ligging van die graf van Dawid te doen kan hê nie.

Die bovertrek vir die Pasga

Waar die huis met die bovertrek was waar Jesus en sy dissipels hul laaste Pasga saam gevier het, is nóg ingewikkelder om vanuit die karige inligting in die Evangelies te bepaal. Die Evangelies gee géén verwysing na waar die huis was van die man wat Petrus en Johannes by die ingang van Jerusalem ontmoet het nie, behalwe dat hy met ’n kruik water sou geloop het. Die enigste afleiding wat daaruit gemaak kan word, is dat dié man van ’n waterpunt af moes gekom het.

Briewe van twee Christenpelgrims wat Jerusalem besoek het en ook na Jesus se laaste Pasga verwys het, het die lokaal wat Jesus gebruik het ook met die Sionsberg verbind, maar hul briewe dateer uit die vierde eeu, wat die presiese plek nog moeiliker maak om te bepaal.

Die enigste moontlike leidraad waarvoor die Coenaculum oorspronklik gebruik is, as hierdie plek deur die eerste Christene as ’n kerk gebruik is, mag dalk lig werp op die eertydse rol van die gebou. Die Basilika wat later daaroor gebou is, is eers in 379-381 nC opgerig en in 1009 nC verwoes. Die probleem is dat die sesde-eeuse kerke glad nie na die bestaan van die Coenaculum verwys nie. [Die Basilika (in blou omkring) word op hierdie Madabakaart uit die sesde eeu aangedui. © Biblical Archaeology Society]

Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat geen argeologiese getuienis bevestig dat die bovertrek waar Jesus en sy dissipels hul laaste Pasga saam gevier het, bó die graf van Dawid geleë is nie.

Die persepsie is om ekonomiese redes geskep om toeriste te lok. Of die Coenaculum reeds in Jesus se tyd bestaan het, is ook moeilik om te bepaal omdat geen argeologiese werk op die terrein toegelaat word nie. Daar is ook geen ander verwysings in die Bybel wat dié plek met bepaalde Bybelse gebeure kan verbind nie.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)