Ons lees in die Bybel van mense wat soms bang geword het of vies was oor God se opdrag, en dan iewers geskuil het of van daardie opdrag af weggevlug het. Om net ’n paar gevalle te noem:  Daar was Moses en sy spraakgebrek; Elia en sy besembos; Jona wat op ’n skuit geklim en weggevaar het; en Dawid wat in ’n spelonk gaan skuil het.

Ons doen vandag nog dieselfde. Ons dink ons is nie goed genoeg om God se opdrag uit te voer of deel te wees van geesteswerk in die gemeente nie, want ons het nie regtig die talente nie. Of ek is baie besig en het nie tyd nie, ek is skaam om voor mense te praat, ek is moeg en nie lus om ’n poging aan te wend nie, of ek doen al klaar een maal ’n week iets en dit is genoeg.

Dit is waar, ons het nie vandag ’n besembos waaronder ons kan inkruip of ’n skip waarop ons kan wegseil of ’n spelonk om in weg te kruip nie. Ons kruip agter maskers weg. Vandag skuil ons almal agter maskers, maskers van lap en verskonings.

Maskers van lap? Ja, die virus wat miljoene oor die wêreld al geraak het, het mense tot maskers gedwing, maar nie tot op ons knieë nie. Die masker is bloot ’n vorm van een tipe beskerming, dat jy nie die virus versprei nie, maar wat kan ons vermag as ons saamstaan en ons elke dag tot die Here wend, so getrou soos wat ons ons masker dra?

Die masker van verskonings sluit aan by bogenoemde. Ek het nie tyd nie, ek kan nie, ek wil nie, ek is bang, ek het nie talente nie… Hierdie is algemene verskonings wanneer hulp by die kerk gevra word. Het ons dieselfde verskonings as dit by die kinders se skool of by die werk kom…?

Kom ons as gelowiges neem vandag die besluit om ons masker te verander in iets eie aan ’n kind van die Here. Hier is ’n paar uitdagings, kom ons noem dit ’n Christelike emmerskoplysie:

  • Gee een keer per week vir iemand ’n geskenk van tyd.
  • Help een keer ’n maand by die teetafel by die kerk.
  • Help iemand wat in nood verkeer.
  • Vertroos iemand.
  • Bied jou dienste aan by ’n kerkbyeenkoms.
  • Bid een keer per dag vir iemand naby aan jou (kies elke dag iemand anders). Bid elke dag vir die pastoriegesin.
  • Besoek ’n bejaarde persoon.
  • Vertel iemand van jou Here.

Haal jou onsigbare maskers af en sien die ongelooflike oomblikke wat elke dag aan jou geskenk word om ’n verskil te maak.

Kom ons bid vir ons beskerming, wysheid en ’n goeie nagrus en dat God ons gewillige diensknegte in sy Naam sal maak.

NHSV Streekvoorsitter: Oos-Kaap

  

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link