So ’n jaar of wat gelede was daar ’n besonderse dokumentêre film van ’n filmmaker wat oor ’n klomp dae (oor ’n jaar lank) elke dag ’n seekat besoek en verfilm het. Hy het die wedervaringe en lewe van hierdie spesiale seekat vasgevang en met die wêreld gedeel. My Octopus Teacher is die film toe gedoop. Dit was so opspraakwekkend en uniek dat die rolprent ’n gesogte Oscar-beeldjie losgeslaan het!

Hierdie spesifieke seekat was van ’n kreatiewe huisbouer tot ’n liefdevolle ma. Om nie eens te praat van die pragtige skakerings en teksture waarin haar uiterlike (uitrustings) getooi was nie!

So tussen die daaglikse take en oorlewing deur was sy ook waaghalsig – sy het ’n diepe vriendskap met ’n ander spesie (die menslike duiker) laat blom.

Sy moes ook gereeld vlug voor gevare. Na ’n dodelike aanval het sy die innerlike krag gehad om te bly veg om weer heel te word, en het sy toe weer voluit geleef tot die einde van haar dae…

Hoekom klink hierdie verhaal en lewe van ’n vreemde gedierte in die dieptes van die oseaan dan so bekend? Wat is ook so veelsydig, uniek, onstuitbaar, dinamies, deernisvol en dapper?

’n Vrou, natuurlik!

Die moderne vrou kry dit stylvol reg om baie balle in die lug te hou. Sy is tegelykertyd ouma, ma, vrou, suster en vriendin. Sy is suksesvol in haar beroep en ook passievol diensbaar by die kerk en in die gemeenskap. Al is daar net 24 ure in die dag, pas sy alles en almal in, én het sy steeds tyd vir ’n draai voor die spieël en ’n lagie pienk op haar vriendelike lippe. Sy laat haar nie onderkry nie, en so deur die gewerskaf deur, dra sy belangrike lewenslesse aan haar kinders oor. Sy weet ook wanneer om halt te roep en eie-tyd ’n prioriteit te maak, want sy is steeds net ’n mens wat sorg en rus nodig het.

Vroue is juis so wonderbaarlik aanmekaar gesit om oral te kan raakvat, van alles bewus te wees, vir almal om te gee, en boonop elke dag van skakering te verander om by die uitdagings en vreugdes van daardie dag aan te pas. Nes ’n seekat met agt tentakels. En haar kinders sal beaam dat sy oë agter haar kop ook het!

Haar geheim – sy rig haar lewe in volgens die Woord van God. Daarin is al die krag, sielskos en antwoorde om haar regop en gesond te hou. ’n Onuitputlike bron van wysheid en praktiese voorbeelde.

’n Slim man met insig het duisende jare gelede ook ’n soortgelyke ode (as die film oor die seekat) aan sy liewe moeder opgedra! Sy was die vrou van Spreuke 31. Hy het ook raakgesien en beleef watter wonderlike skepping sy ma was en waartoe sy, as vrou, alles in staat was. Hy het heel waarskynlik ook baie ander vroue geken waarop hy sy navorsing en slotsom gebaseer het. ’n Maria, of ’n Naomi en ’n Rut, dalk ’n Marta en ’n Ester. Hul verhale vertel almal van hierdie spesiale eienskappe en diepe geloof.

Jy hoef nie so ver te gaan soek soos die bodem van die see na ’n Octopus Teacher nie. Kyk net om jou rond en sien die vroue in jou lewe raak, sien ook jouself raak! ’n Super Seekat Suster.

Hiermee die hoogste toekenning (en waardering) aan al my Super Seekat Susters daar buite!

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

NHSV Streekvoorsitter Hoëveldstreek en predikantsvrou Gemeente Secunda

Share via
Copy link
Powered by Social Snap