Daar was eendag ’n klein kersie wat deur ’n man gedra is terwyl hy die trappe na die vuurtoring uitklim. Op pad na bo vra die kersie vir die man: “Waarheen gaan ons?” Die man antwoord: “Ons is op pad na die vuurtoring om seine te gee aan die groot skepe op die oseaan.”
“Wat?!”, sê die kersie. Hy vervolg swak: “Hoe is dit vir my klein vlammetjie moontlik om seine te gee aan die groot skepe op die oseaan? Dis verregaande, hulle sal nooit my liggie kan sien nie.” Die man sê: “As jy dink jou liggie is klein, is dit jou persepsie. Bly jy net skyn tot ons bo kom, en los die res vir my.”
Toe hulle bo in die toring kom, sien die kersie daar staan ’n vreeslike groot lamp met ’n lang kerspit. Die man neem toe die lamp se pit en steek dit aan die brand met die klein kersie se vlammetjie in sy hand, en onmiddellik was die hele plek helder verlig. Die lamp se lig was so sterk dat die skepe op die oseaan dit duidelik kon sien.
Ons sien almal daagliks ons eie beperkings raak. Waar ons self in ons eie lewe val, voel ons nie asof ons enigiets van waarde vir iemand kan beteken of doen nie. En terwyl ons onsself sien as klein, nietig en onbeduidend, as die klein kersies van die lewe, is daar een ding wat ons vergeet het – óns is wel die klein kersie, maar in die hande van die almagtige God maak Hy hierdie klein kersie ’n seën vir almal om te sien.
Jy is miskien die klein kersie wat die lamp se pit laat brand sodat die groot skepe op die lewensee hul rigting kan behou. ’n Klein aanmoedigende woordjie of gebed, of ’n klein daad van liefde kan ’n groot liefdesvuur aan die brand steek.
Een klein kersie se lig kan nie uitgedoof word nie. Duisternis kan nie lig verdryf nie, maar lig verdryf altyd die duisternis. God laat die lig van sy liefde uit jou lewe skyn en ons, as beelddraers van God, straal hierdie lig uit om die donkerte in ander se lewens te verdryf met God se lig wat daarop skyn. Om die lig vir die wêreld te wees, is om God se liefde met jou naaste te deel.
Laat ’n spoor van lig na met jou geestelike lamp wat jy ronddra, met jou lewe toegewy aan die Here! Wanneer jy die donkerte in ander se lewens laat verdwyn, bly dit ’n blywende lig wat aangesteek bly – ’n nalatenskap van ons dissipelskap in Jesus Christus.
Mag elkeen van ons se klein kersies vir oulaas in 2024 ’n groot LIG aansteek deur hoe ons optree en opstaan in en vir ons gesinne, gemeentes en gemeenskappe. Laat jou lig altyd skyn as God se koningskind, sodat ons Vader in die hemel daardeur verheerlik kan word!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)