Ons manier van doen en dink het die afgelope twee jaar heeltemal verander. Dis asof die pandemie ’n mens gedwing het om meer bewustelik te leef, meer te fokus op die dinge wat werklik saak maak, veral wat ons denke en ingesteldheid betref.
Ons denke speel ’n veel groter rol as wat ons waarskynlik besef het. Volgens dr Hannetjie van Zyl-Edeling, in die Desember 2021/Januarie 2022-uitgawe van Plus 50, kan jou biologiese ouderdom, met ander woorde, jou liggaamsgesondheid, tot 15 jaar “jonger” wees as jou chronologiese ouderdom – afhangend van jou lewensingesteldheid!
Wanneer ons deur tydskrifte blaai, word ons bewus van die hoeveelheid artikels oor onderwerpe wat werklik saak maak, onderwerpe wat ons noop om sinvol en dankbaar te leef.
Dr Van Zyl-Edeling meen dat ’n mens aanpasbaar móét wees, en indien die situasie nie kan verander nie, kan ons steeds ’n kopskuif maak. Voorkoming en beplanning staan vir haar voorop – wanneer sake skeefloop, kan jy dit makliker aanvaar indien jy weet jy het alles gedoen wat jy kon.
Dit is belangrik dat jy nadink oor jóú aandeel aan ’n uitdagende situasie: As jy dit nie veroorsaak het nie, kan jy dit gerus laat gaan. As jy dit wel veroorsaak het, moet jy probeer vrede maak of die saak probeer regstel.
Al speel ons denke ’n kardinale rol in hoe ons situasies ervaar en verwerk, is daar altyd nog die eksterne faktore waaroor ’n mens geen beheer het nie en wat jou lewe beïnvloed. Covid-19 met al die hartseer en verlies wat dit meegebring het, is ’n bewys daarvan. Daar is sekerlik nie ’n enkele huisgesin in Suid-Afrika wat nie direk of indirek daardeur geraak is nie, hetsy deur verlies aan inkomste en/of die afsterwe van ’n geliefde. Volgens dr Van Zyl-Edeling maak onopgeloste kwessies die verlies soveel moeiliker om te verwerk, veral by die afsterwe van ’n geliefde.
Dit is dus duidelik dat ’n mens se denke ’n bepalende rol in jou lewe speel. Elkeen moet ’n doelbewuste keuse maak om te alle tye dankbaar te leef. Ten spyte van jou omstandighede – al lyk en voel dit ook hóé sleg in daardie stadium – het jy nog altyd iets om voor dankbaar te wees. Jý is die een wat kies om dankbaar te leef!
NHSV Streekvoorsitter: Oos-Rand
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
