Twee en ’n half minute nadat jy hierdie sin gelees het, sal iemand in Suid-Afrika aangerand word met die opset om ernstig te beseer. In dieselfde tydperk sal iemand ’n moordpoging oorleef. Na twee en ’n half minute gebeur dit weer. Hou aan tel. Twaalf minute van nou af, sal ’n vrou verkrag word. Na twaalf minute gebeur dit weer. Hou aan tel. Oor sestien minute van nou, sal iemand vermoor word. Twintig minute vanaf hierdie oomblik sal ’n kind ernstig aangerand word. Agt ure van nou af sal ’n kind vermoor word. Hou aan tel. Weer. En weer. En weer.

Die begrip trauma word beter verstaan as ’n mens kyk na die herkoms van die woord in Grieks, naamlik dat dit na ’n ernstige wond verwys. Nie alle wonde is sigbaar nie. Trauma volg wanneer ’n persoon blootgestel is aan ’n gebeurtenis of ’n reeks gebeurtenisse wat emosioneel ontstellend of lewensbedreigend is, en ’n blywende effek op ’n persoon se liggaamlike, geestelike, kognitiewe, emosionele en sosiale welstand het.

Trauma word nie net deur die slagoffers self ervaar nie, maar ook wanneer iemand ’n waarnemer van traumatiese gebeure is, of die nuus ontvang dat dit met ’n familielid of nabye vriend gebeur het. Mense wat oor ’n lang tydperk blootgestel is aan traumatiese gebeurtenisse, soos in die geval van mediese personeel en polisielede, ervaar ook trauma.

TraumaNetwerk het juis tot stand gekom om slagoffers van trauma by te staan. Daarom het TraumaNetwerk ’n toepassing (app) ontwikkel, bekend as TraumaApp, om mense bewus te maak van die gevolge van trauma en watter hulp beskikbaar is. Die kontakinligting van traumaberaders oor die land heen, asook die detail van twee 24-uur-hulplyne waarheen jy kan skakel om hulp te ontvang, word ook gedeel. Die hulplyne word deur AfriForum se trauma-eenheid en Life Path Health ondersteun.

TraumaApp kan gratis afgelaai word by www.traumanetwerk.co.za. Klik regs bo Installeer Trauma Netwerk om dit op jou foon af te laai. Daar is video’s beskikbaar oor die impak van trauma en posttraumatiese stresversteuring. Deel asseblief die skakel met soveel vriende en familie moontlik. Ons weet nooit wanneer iemand dit mag nodig kry nie.

TraumaNetwerk hoop om opgeleide beraders oral in die land te hê, ook in die kleinste dorpies en mees verafgeleë areas. Indien jy dus in traumaberading opgelei is en by TraumaNetwerk wil inskakel, kan jy mev Karen Breedt by karen@nhk.co.za of 073 571 1074 kontak. As jy graag opleiding as traumaberader wil ontvang, kan jy ook met ons kontak maak om na toepaslike opleidingsinstansies verwys te word.

Jy het nie gekies om ’n slagoffer tydens die traumatiese ervaring te wees nie, maar jy kan kies om nie vir die res van jou lewe ’n slagoffer te bly nie. Daar is genesing ná trauma. Posttraumatiese stresversteuring is nie die enigste uiteinde nie – die moontlikheid van posttraumatiese groei bestaan ook.

Ons is dankbaar dat die Here reeds die TraumaApp gebruik om hulp en heling in ons land te bring. Hoewel ons pas met die inisiatief afgeskop het, gebruik gemiddeld 80 mense per dag reeds die toep om hulp vir trauma te ontvang.

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels)

(Dr Thinus van Staden is die sameroeper vir TraumaNetwerk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap