Soos ons deur die pekanneutboord beweeg en snoei en spuit, is ek weer verwonderd oor die natuur. 1 300 bome wat almal saam geplant is, wat dieselfde water kry, dieselfde bemesting, dieselfde snoei, dieselfde reën… Elkeen van die 1 300 bome het dieselfde geleentheid gekry om te lewe en te groei. En tog gaan jy mooi moet kyk om twee te sien wat ewe groot is, dieselfde lyk, ewe veel blare het, ewe vinnig groei.
Wat maak die verskil? Is dit die wortels wat verskil? Is dit die blare? Is dit die stam?
Ons mense het ook dieselfde geleentheid gekry om in ons geloof te groei. Soos die pekanneutboord, het ons gelowiges almal dieselfde Jesus wat vir ons gesterf het, want dit is baie duidelik in die Bybel: Jesus het gekom om vir alle mense te sterf. Ons het almal dieselfde Bybel, omtrent in elke denkbare taal reeds vertaal, waarin ons kan lees van Jesus en van God en van die Heilige Gees wat met ons is. Die meeste van ons kan ongehinderd kerk toe gaan waar die Woord van God vir ons uitgelê word sodat ons dit beter kan verstaan.
Hoekom is elke mens in Suid-Afrika nie ’n gelowige nie? Hoekom is daar juis deesdae soveel nie-gelowiges? Mense wat die bestaan van God ontken en die wonderwerk van Jesus se opstanding afmaak as stories?
Hoekom gebruik ons nie die geleentheid wat aan ons gebied word nie?
Lukas 21: 13 sê: Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om te getuig (AFR2020). In Galasiërs 6: 10 staan daar: Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof (AFR2020).
Ek wonder hoeveel van ons sien so ’n geleentheid raak?
Jesus, ’n totale vreemdeling, loop langs die meer en sê vir verskeie vissermanne, ook vreemdelinge, om Hom te volg. Hulle gryp die geleentheid aan en volg Hom – die beste besluit van hul lewens! Sou ek dit gedoen het?
Saggeus hoor van die geleentheid om Jesus, die prediker en wonderdoener, te sien en te hoor praat. Hy hardloop vooruit en maak die beste van die geleentheid – hy klim in ’n boom om die beste te kan sien. Jesus sien hom raak en die geleentheid wat hy aangegryp het, bring die grootste omwenteling in sy lewe, wat vir hom lei tot geloof en die Ewige Lewe. Wat sou ek gedoen het?
Die ryk jong man vra vir Jesus wat hy kan doen om in die hemel te kom. Jesus gee hom die geleentheid om Hom te volg, maar die man sien nie kans om dit aan te gryp nie… Sou ek? Sou jy?
Ons het elkeen die geleentheid om te glo en dankbaar te lewe, soos elke pekanneutboom, want Jesus het vir elkeen van ons gesterf. Wat maak ons met daardie geleentheid?
Visevoorsitter van die NHSV Hoofbestuur en lidmaat van Gemeente Lydenburg
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
